Monday, 10 September 2012

Uil op ‘n kluit wag vir die wrede wolf.


En hier sit ek nou soos ‘n uil op ‘n kluit met my vinger waar-ookal en wonder wanneer gaan hierdie wolf-tweestryd eendag minder word?

Ek en my kinders se pa skei mos toe so 7 jaar terug. My oudste was so 9/10 jaar oud. Graad 3/4 se kant. My kind kry swaar. Almal kry swaar.
Dis mos ‘n hartseer wat jy nie eers vir jou grootste vyand wil toewens nie.
My kind cope nie.
Ek probeer wraggies alles. Sielkundige beveel anti-depressante aan, die pilletjies help haar deur die ergste smart.

Die lewe stap aan..
Daar doer êrens in die verte lê ‘n honger wolf en loer..
Graad 6 (12 jaar) trek ons in ‘n nuwe huis in, met rooskleurige brille, hartjievormige oë en  blink idees hoe ons ‘n nuwe gesin gaan bou.
Sussies- nuut en oud – baklei.
Ouers probeer reëls neerlê.
Konflik konflik konflik.
Konflik tussen x’e, tussen nuwe ma’s  en nuwe skoonma’s, tussen nuwe man en vrou, tussen kinders, nou het jy sommer ‘n hele x familie bygekry om te hanteer, wat nog van die x-vrou!
En almal wil net die beste vir die kinders hê…
Die wolf lê doer eenkant ek glimlag breed.

Hier so teen September raak my kind weer stil, ons sukkel maar so aan. Graad 7 kom, almal opgewonde, laaste jaar van laerskool!
Ons gaan die jaar deur met op-en-af op-en-af. Ons het immers twee super emosionele begin-tieners in die huis en ‘n net so erge emosionele tweenie en ‘n hele spul x’e met issues.
Ek en die nuwe man skep net so af en toe asem in die stryd…
Die wolf sluip ongesiens effens nader.

Hoërskool kom, my kind sukkel. Sy kry swaar. Moeg geleef. Psigiater beveel weer pilletjies aan. Ons het Graad 8 gemaak – hoera!
Die wolf kruip skelm-skelm nog nader.

Ons pak Graad 9 aan met nuwe moed. Stiefsussie kry annorexia.
Hel.
Jy sien hoe die kind onder jou oë wegkrimp en wegkwyn.
Almal is uit beheer uit.
Die wolf lek sy lippe af…
Sy kan nie help sy sny die visvinger in 16 stukkies en eet net een stukkie nie, sy kan nie help om vleis in haar handsak weg te steek nie, ‘n appel word ‘n uur se maaltyd.
Ons sien hoe die beentjies dunner raak, hare in bosse uitval, hoe haartjies om haar lyfie groei vir warmte, ons sien hoe sy nie krag het om 20m te loop nie..
Ons almal leef in angs en super stres.
Elkeen het ‘n ander plan hoe om dìe situasie te hanteer.
Almal wil help. Word kwaad – hoekom probeer jy nie dit nie?!
Forseer die kind om te eet!
Neem haar na ‘n duiwelsuitdrywer!
Gee haar homeopatiese pilletjies!
Stuur vir haar energie!
Die arme pa, hy baklei hand-en-tand teen die wolf.
Hy is die enigste steunpilaar.
Almal rig hul vrees en angste op hom.. Hy moet staande bly. Hy word oornag grys.
Ons bid bid bid en hang net aan stringetjies en klou om nie ook in die donker gat te val saam met die wolf nie..
My kind huil, haar nuwe sussie gaan dood, sy weeg dan net 28kg…
Die wolf wys sy geel tande en lek sy lippe af.
Ons kom daardeur – erg geskaad en geknou, maar hegter.
Die vrees vir die donker wolf om weer uit te spring leef elke dag saam met jou.

My kind se pa bedank sy werk vir groener weivelde aan die anderkant.
Die wolf gebruik sy kans. Hy gryp!
Sy moet Graad 9 eind-eksamen skryf. Dit gaan taai. My kind kan nie meer nie. Sy is moedeloos, wil nie leef nie. Sy beland in Denmar. Sy kom deur op haar jaarpunt.
Ons hou vakansie.
Boggoms bring lag en lig.
Ons sien weer kans om aan te gaan!

Die gras is toe morsdood aan die ander kant.
Sy vrou skop hom uit. Moeg vir die bravades.
My kinders bekommer hulle dood oor hulle pa, hulle ma bekommer haar dood oor die onderhoud wat net weg is.
Stres neem toe.
My kind voel verantwoordelik.
Die wolf glimlag breed met sy kwylende mond, nog ‘n prooi is op die horison..

Julie Graad 10 begin, die afdraande begin weer, ons ruik die wolf se stink asem.
Die ma raak moedeloos.
Praat moed in, troos, gee raad, psigiater gee weer medisyne. Baklei hand en tand om die wolf weg te hou.
Die ma kry toe darem weer vir die pa werk – vêr – in Mafikeng.
Dankie dankie dankie vir vriende.
Ons sukkel.
Ons stoei om uit die gat te bly.
Ons baklei  met die wolf.
Die pa is afwesig.
My engelkind begin haar sny. Diep snye op haar polse. Sy wil nie meer skool toe gaan nie. Die kinders maak haar moeg. Die snye word dieper.
Die sielkundige praat en praat en praat.
Die ma bekommer meer en meer en meer, weet nie wanneer sy iets gaan aanvang nie.
Haar nuwe man spook om sy eie wolwe weg te hou.

Als is te veel vir haar om te dra.
Die wolf kruip nader…

“Mamma, mamma! Ek MOET met jou praat. “NOU!”.  
Ai, ek het regtig nou vir die eerste keer ontspan vandag, net ‘n halfuurtjie haar alleen gelos. “Wat is dit sussie?” “Mamma? “
 “Wat sussie?!” “Mamma ek het pille gedrink.”
Die wolf is op die Ma. Sy is wit geskrik.
“Wat se pille?
Hoeveel?
Wanneer?”
Ons jaag hospitaal toe.
Ma bel die Pa. Toevallig is hy in Pretoria die naweek.
“Ons kind het ‘n oordosis slaappille gedrink.”
“Nee, ek kom nie nou hospitaal toe nie, gee haar ‘n ordentlike pak slae. Sy maak droog.”
Die wolf lag uit sy maag uit, die ma sug met ‘n pyn in haar hart.
Tussen die houtskooloplossing, opgooi en inpomp – “Mamma, waar is Pappa?”. “Hy kom nie my kind, hy sê Centurion is te ver.”
Die wolf lag harder.

Met die hulp van Bo, kry ons die volgende dag ‘n afspraak by ‘n wonderlike psigiater. Sy is bereid om  ‘n pad te stap met ons. Diagnoseer my kind met bipolêre depressie.
Die wolf skop die Ma voluit in haar maag. Sy snak na asem, haar wind is uit.
Navorsing, navorsing, navorsing.
Medisyne, medisyne, medisyne.
Die balanse kom nie reg nie, my kind wankel op die rand van die gat.
Die wolf kruip nader.
Die eksamen kom nader.
Die gat se rand raak al gladder.
Die wolf grom, my kind val, val, val.
Ons beland weer in Denmar.
Die ma, die dokter, die sielkundige baklei met skool, onderwys departement– sy MOET eksamen skryf.
 “Kan julle nie sien die kind is siek nie!!!?”
Erg traumaties.
Die vakansie breek aan.
Boggoms bring lig en lag.
Die gat is te groot.
Die wolf trek te hard.
My kind kom net halfpad uit.
Die lig is te ver.

Februarie 2012 val ons weer af in die gat.
Kan nie elke liewe dag so hard baklei teen die wolf nie. ‘n Mens word moeg.
Een oomblik van wegkyk en jy val, val, val.

Die tweede opinie in Denmar sit my kind in ‘n chemiese straight-jacket.
My kind is ‘n “is”.
Die wolf is weg, die gat is weg, die konsentrasie is weg, die huil is weg, die lag is weg, die lig is weg, dis net ‘n “is” wat oorbly.
Die werks-agterstand, die druk , die tempo, alles te veel.
Die wolf kruip stadig nader, hy maak ons angstig, hy wys sy tande, sy asem stink, hy is bang vir die medisyne.
Hou sy afstand, ook maar net-net.
Ekstra klasse en nogmaals ekstra klasse.
Die toetse kom, die halfjaar eksamens kom, die rapporte kom.
Die wolf lag en lag en lag met sy sluwe tande. Hy probeer byt byt byt.

Die ma moet ‘n plan maak.
Wat?
Medikasie word aangepas – my kind kan nie langer ‘n “is” wees nie.
Die gat se rante raak gladder, die ma baklei teen die wolf, hy gaan nie DIE keer my kind aftrek in die gat nie.
Die gat word gladder en gladder.
Ons verander skoolvakke, ons gaan sien onderwysers, ons sien die sielkundige.
Nog ‘n mediese opinie.
Nog ‘n bipolêre diagnose.
Die wolf lek sy lippe af. Hy kan nie WAG nie! Ons raak bang.
My kind raak moeg baklei.
Die ma is gedaan.
Help asseblief.

Ek en sy gaan sien die sielkundige saam.
Mevrou, jy het dan opgegee toe jy geskei het, hoe kan jy nou nie laat jou kind opgee nie? Mevrou, jou kind is nog nie oor die egskeiding nie. Mevrou, jy het aan te veel oplossings gedink en te min genurture.
Mevrou, sy het ‘n afwesige pa.
Mevrou, jou kind moet jou, haar pa en haarself vergewe.
Is jy bereid om vir jou kind jammer te sê aan wat jy aan haar gedoen het?

Die ma is platgeslaan.
Ek het wraggies alles probeer.
Ek hét my bes probeer.
Ek gee nie op nie.
Ek het regtig probeer om dit so maklik as moontlik te maak vir my kinders, om altyd daar te wees vir hulle.
Kon sy dit nie agtergekom het gedurende hierdie twee jaar wat sy my kind behandel het nie? Besef sy dan nie die belangrikheid van skool-opleiding nie?
Iemand moet my kind leer uithou en aanhou.
Mevrou, MOET is ‘n baie sterk woord. MOET teenoor jou kind se lewe?
Wat is die belangrikste? MOET matriek of MOET lewe?
Die wolf lag sy wrede lag te lekker.

Die ma voel alleen, moedeloos.
Sy gaan sit op ‘n kluit.
Doer in die verte sien sy hoe die wolf nader kruip om haar kind weereens te gryp.
Wat maak sy?
Aanhou,
moed inpraat,
aanhou en uithou tot my kind eendag self besluit om die wolf te weerstaan,
ek kan tog nie my kind vir die wolwe gooi nie?

Soms ruik ons die wolf se asem, soms moet ons hard baklei om uit sy kloue te bly, soms lê hy vêr eenkant en ons kan effens asemhaal en lag.
Ons probeer allerhande wapens te gebruik om die wolf te jaag, want net dalk, dalk raak die wolf bang genoeg om vir altyd weg te hardloop, maar
intussen moet die ma op die kluit elke dag loer en dophou en rondkyk, want ons weet nooit wanneer die wolf weer gaan toeslaan nie…

1 comment:

  1. Dit is verskriklik.... - mooi en so so hartseer. Ek lees so baie aspekte van my 'journey' met my dogtertjie in jou verhaal raak. Wens dit was net 'n sprokie met 'n wrede wolf en nie 'n gesin wat deur die ergste trauma ooit moes/tans lewe. Baie dankie dat jy dit met my gedeel het. xx

    ReplyDelete