En hier sit ek nou soos ‘n uil op ‘n
kluit met my vinger waar-ookal en wonder wanneer gaan hierdie wolf-tweestryd
eendag minder word?
Ek en my kinders se pa skei mos toe so
7 jaar terug. My oudste was so 9/10 jaar oud. Graad 3/4 se kant. My kind kry
swaar. Almal kry swaar.
Dis mos ‘n hartseer wat jy nie eers
vir jou grootste vyand wil toewens nie.
My kind cope nie.
Ek probeer wraggies alles. Sielkundige
beveel anti-depressante aan, die pilletjies help haar deur die ergste smart.
Die lewe stap aan..
Daar doer êrens in die verte lê ‘n
honger wolf en loer..
Graad 6 (12 jaar) trek ons in ‘n nuwe
huis in, met rooskleurige brille, hartjievormige oë en blink idees hoe ons ‘n nuwe gesin gaan bou.
Sussies- nuut en oud – baklei.
Ouers probeer reëls neerlê.
Konflik konflik konflik.
Konflik tussen x’e, tussen nuwe ma’s en nuwe skoonma’s, tussen nuwe man en vrou,
tussen kinders, nou het jy sommer ‘n hele x familie bygekry om te hanteer, wat
nog van die x-vrou!
En almal wil net die beste vir die
kinders hê…
Die wolf lê doer eenkant ek glimlag
breed.
Hier so teen September raak my kind
weer stil, ons sukkel maar so aan. Graad 7 kom, almal opgewonde, laaste jaar
van laerskool!
Ons gaan die jaar deur met op-en-af
op-en-af. Ons het immers twee super emosionele begin-tieners in die huis en ‘n
net so erge emosionele tweenie en ‘n hele spul x’e met issues.
Ek en die nuwe man skep net so af en
toe asem in die stryd…
Die wolf sluip ongesiens effens nader.
Hoërskool kom, my kind sukkel. Sy kry
swaar. Moeg geleef. Psigiater beveel weer pilletjies aan. Ons het Graad 8
gemaak – hoera!
Die wolf kruip skelm-skelm nog nader.
Ons pak Graad 9 aan met nuwe moed.
Stiefsussie kry annorexia.
Hel.
Jy sien hoe die kind onder jou oë
wegkrimp en wegkwyn.
Almal is uit beheer uit.
Die wolf lek sy lippe af…
Sy kan nie help sy sny die visvinger
in 16 stukkies en eet net een stukkie nie, sy kan nie help om vleis in haar
handsak weg te steek nie, ‘n appel word ‘n uur se maaltyd.
Ons sien hoe die beentjies dunner
raak, hare in bosse uitval, hoe haartjies om haar lyfie groei vir warmte, ons
sien hoe sy nie krag het om 20m te loop nie..
Ons almal leef in angs en super stres.
Elkeen het ‘n ander plan hoe om dìe
situasie te hanteer.
Almal wil help. Word kwaad – hoekom
probeer jy nie dit nie?!
Forseer die kind om te eet!
Neem haar na ‘n duiwelsuitdrywer!
Gee haar homeopatiese pilletjies!
Stuur vir haar energie!
Die arme pa, hy baklei hand-en-tand
teen die wolf.
Hy is die enigste steunpilaar.
Almal rig hul vrees en angste op hom..
Hy moet staande bly. Hy word oornag grys.
Ons bid bid bid en hang net aan
stringetjies en klou om nie ook in die donker gat te val saam met die wolf nie..
My kind huil, haar nuwe sussie gaan
dood, sy weeg dan net 28kg…
Die wolf wys sy geel tande en lek sy
lippe af.
Ons kom daardeur – erg geskaad en
geknou, maar hegter.
Die vrees vir die donker wolf om weer uit
te spring leef elke dag saam met jou.
My kind se pa bedank sy werk vir
groener weivelde aan die anderkant.
Die wolf gebruik sy kans. Hy gryp!
Sy moet Graad 9 eind-eksamen skryf.
Dit gaan taai. My kind kan nie meer nie. Sy is moedeloos, wil nie leef nie. Sy
beland in Denmar. Sy kom deur op haar jaarpunt.
Ons hou vakansie.
Boggoms bring lag en lig.
Ons sien weer kans om aan te gaan!
Die gras is toe morsdood aan die ander
kant.
Sy vrou skop hom uit. Moeg vir die
bravades.
My kinders bekommer hulle dood oor
hulle pa, hulle ma bekommer haar dood oor die onderhoud wat net weg is.
Stres neem toe.
My kind voel verantwoordelik.
Die wolf glimlag breed met sy kwylende
mond, nog ‘n prooi is op die horison..
Julie Graad 10 begin, die afdraande
begin weer, ons ruik die wolf se stink asem.
Die ma raak moedeloos.
Praat moed in, troos, gee raad,
psigiater gee weer medisyne. Baklei hand en tand om die wolf weg te hou.
Die ma kry toe darem weer vir die pa
werk – vêr – in Mafikeng.
Dankie dankie dankie vir vriende.
Ons sukkel.
Ons stoei om uit die gat te bly.
Ons baklei met die wolf.
Die pa is afwesig.
My engelkind begin haar sny. Diep snye
op haar polse. Sy wil nie meer skool toe gaan nie. Die kinders maak haar moeg.
Die snye word dieper.
Die sielkundige praat en praat en
praat.
Die ma bekommer meer en meer en meer,
weet nie wanneer sy iets gaan aanvang nie.
Haar nuwe man spook om sy eie wolwe
weg te hou.
Als is te veel vir haar om te dra.
Die wolf kruip nader…
“Mamma, mamma! Ek MOET met jou praat.
“NOU!”.
Ai, ek het regtig nou vir die eerste
keer ontspan vandag, net ‘n halfuurtjie haar alleen gelos. “Wat is dit sussie?”
“Mamma? “
“Wat sussie?!” “Mamma ek het pille gedrink.”
Die wolf is op die Ma. Sy is wit
geskrik.
“Wat se pille?
Hoeveel?
Wanneer?”
Ons jaag hospitaal toe.
Ma bel die Pa. Toevallig is hy in
Pretoria die naweek.
“Ons kind het ‘n oordosis slaappille
gedrink.”
“Nee, ek kom nie nou hospitaal toe
nie, gee haar ‘n ordentlike pak slae. Sy maak droog.”
Die wolf lag uit sy maag uit, die ma
sug met ‘n pyn in haar hart.
Tussen die houtskooloplossing, opgooi
en inpomp – “Mamma, waar is Pappa?”. “Hy kom nie my kind, hy sê Centurion is te
ver.”
Die wolf lag harder.
Met die hulp van Bo, kry ons die
volgende dag ‘n afspraak by ‘n wonderlike psigiater. Sy is bereid om ‘n pad te stap met ons. Diagnoseer my kind
met bipolêre depressie.
Die wolf skop die Ma voluit in haar
maag. Sy snak na asem, haar wind is uit.
Navorsing, navorsing, navorsing.
Medisyne, medisyne, medisyne.
Die balanse kom nie reg nie, my kind
wankel op die rand van die gat.
Die wolf kruip nader.
Die eksamen kom nader.
Die gat se rand raak al gladder.
Die wolf grom, my kind val, val, val.
Ons beland weer in Denmar.
Die ma, die dokter, die sielkundige baklei
met skool, onderwys departement– sy MOET eksamen skryf.
“Kan julle nie sien die kind is siek nie!!!?”
Erg traumaties.
Die vakansie breek aan.
Boggoms bring lig en lag.
Die gat is te groot.
Die wolf trek te hard.
My kind kom net halfpad uit.
Die lig is te ver.
Februarie 2012 val ons weer af in die
gat.
Kan nie elke liewe dag so hard baklei
teen die wolf nie. ‘n Mens word moeg.
Een oomblik van wegkyk en jy val, val,
val.
Die tweede opinie in Denmar sit my
kind in ‘n chemiese straight-jacket.
My kind is ‘n “is”.
Die wolf is weg, die gat is weg, die
konsentrasie is weg, die huil is weg, die lag is weg, die lig is weg, dis net ‘n
“is” wat oorbly.
Die werks-agterstand, die druk , die
tempo, alles te veel.
Die wolf kruip stadig nader, hy maak
ons angstig, hy wys sy tande, sy asem stink, hy is bang vir die medisyne.
Hou sy afstand, ook maar net-net.
Ekstra klasse en nogmaals ekstra
klasse.
Die toetse kom, die halfjaar eksamens
kom, die rapporte kom.
Die wolf lag en lag en lag met sy
sluwe tande. Hy probeer byt byt byt.
Die ma moet ‘n plan maak.
Wat?
Medikasie word aangepas – my kind kan
nie langer ‘n “is” wees nie.
Die gat se rante raak gladder, die ma
baklei teen die wolf, hy gaan nie DIE keer my kind aftrek in die gat nie.
Die gat word gladder en gladder.
Ons verander skoolvakke, ons gaan sien
onderwysers, ons sien die sielkundige.
Nog ‘n mediese opinie.
Nog ‘n bipolêre diagnose.
Die wolf lek sy lippe af. Hy kan nie
WAG nie! Ons raak bang.
My kind raak moeg baklei.
Die ma is gedaan.
Help asseblief.
Ek en sy gaan sien die sielkundige
saam.
Mevrou, jy het dan opgegee toe jy
geskei het, hoe kan jy nou nie laat jou kind opgee nie? Mevrou, jou kind is nog
nie oor die egskeiding nie. Mevrou, jy het aan te veel oplossings gedink en te
min genurture.
Mevrou, sy het ‘n afwesige pa.
Mevrou, jou kind moet jou, haar pa en
haarself vergewe.
Is jy bereid om vir jou kind jammer te
sê aan wat jy aan haar gedoen het?
Die ma is platgeslaan.
Ek het wraggies alles probeer.
Ek hét my bes probeer.
Ek gee nie op nie.
Ek het regtig probeer om dit so maklik
as moontlik te maak vir my kinders, om altyd daar te wees vir hulle.
Kon sy dit nie agtergekom het
gedurende hierdie twee jaar wat sy my kind behandel het nie? Besef sy dan nie
die belangrikheid van skool-opleiding nie?
Iemand moet my kind leer uithou en
aanhou.
Mevrou, MOET is ‘n baie sterk woord.
MOET teenoor jou kind se lewe?
Wat is die belangrikste? MOET matriek
of MOET lewe?
Die wolf lag sy wrede lag te lekker.
Die ma voel alleen, moedeloos.
Sy gaan sit op ‘n kluit.
Doer in die verte sien sy hoe die wolf
nader kruip om haar kind weereens te gryp.
Wat maak sy?
Aanhou,
moed inpraat,
aanhou en uithou tot my kind eendag
self besluit om die wolf te weerstaan,
ek kan tog nie my kind vir die wolwe
gooi nie?
Soms ruik ons die wolf se asem, soms
moet ons hard baklei om uit sy kloue te bly, soms lê hy vêr eenkant en ons kan
effens asemhaal en lag.
Ons probeer allerhande wapens te
gebruik om die wolf te jaag, want net dalk, dalk raak die wolf bang genoeg om
vir altyd weg te hardloop, maar
intussen moet die ma op die kluit elke
dag loer en dophou en rondkyk, want ons weet nooit wanneer die wolf weer gaan
toeslaan nie…