Wednesday, 24 October 2012

Perde koop is mos nou nie trou nie.



Mamma, ek wil ‘n perd hê! 


Wat se perd, my liewe kind?  
Wil jy ‘n Arabierse perd hê? Nee, Mamma nee! 
Wil jy ‘n Vriesperd hê? Nee, Mamma nee! 
Wil jy vir ianto hê? 
Ja, Mamma ja!!

Mishka was mos toe nou al een wat oorgebly het van ons meisiekinders se perdrylesse en het besluit perdry, die gaan sy doen! 
Deur baie trane en “Mamma, Oupa sê mens moet eers sewe keer afval voor jy kan ry!” het sy vasgebyt en aanhou ry.
So deur ‘n paar skoue met 'n paar perde met  ‘n gestamp (perde is groot) en ‘n gestoot (in horseboxes) en en ‘n gesukkel (hoekom moet hulle neusgate, lippe en tande ook skoon wees vir showing?!) het die behoefte vir Mishka om haar eie perd te kry al groter geraak.

Mishka se afrigter destyds, Anneri, kry mos toe hierdie verwaarloosde Appaloosa weggooi-perd.
Mishka is nou net in ‘n nuwe saamgestelde gesin met al sy dramas en aanpassings. Nodeloos om te sê Mishka en ianto bind onmiddellik.
Ianto is vreeslik lief vir cuddle, vryf en aandag.
Enige kind kan vir Ianto liefie.
Kinders koek rondom hom, maar wanneer Mishka egter aankom los hy almal en loop reguit na haar.
Hulle vrek oor mekaar.
Ianto het nie te veel ruiter-ondervinding nie.
Die dag as Mishka in ‘n slegte bui is, is Ianto nog kwater.
As Mishka lekker voel, ry hulle lekker.
So swoeg en sweet Mishka met ‘n baie wispelturige perdjie met bokke, skoppe, byte en baie trane.
Ianto wil nie geleer word nie, Mishka te min ondervinding en so word nuwe ruiters op Ianto geprobeer. Soos hulle opklim, so gooi hy hulle af – hy hardloop weg of spring en bok, ruiters hou selde meer as vyf minute op sy rug. 
Natuurlik behalwe met Mishka, hy gedra hom nog met haar, die ma weet nie vir hoe lank nie...


Ianto word te duur, niemand anders kan hom ry nie.
Mishka is hartverskeurend hartseer.
Ons oorweeg om Ianto te koop, maar hy is sooo wispelturig.

Perde koop is nie trou nie.

 ‘n Groot dier het groot uitgawes.
Hy eet baie – elke liewe dag.
Hy het ‘n saal en ‘n toom en ‘n kombers nodig.
Hy kan siek word.
Sy been kan opswel.
Sy tande moet gedoen word.
Sy hoewe moet gevyl word en
so kan dit aangaan…
Wat as Ianto vir Mishka ook afgooi en sy kry regtig seer?

Ons kry proffesionele opinies.
Die ‘horse whisperer’ val ook af na ‘n paar minute, hy sê Mishka kan baie seerkry. 
Die veearts sê Ianto se heup het ‘n probleem, hy moet ‘n jaar in die veld loop.
Mishka wil van niks hoor nie, sy wil vir Ianto hê.
En toe gebeur dit.
Mishka klim op, Ianto bok, Mishka val af en kraak haar arm.
6 weke in gips.
Die ma sit haar voet neer.
Ianto gaan veld toe vir ‘n jaar of langer.
Groot trane.
Hartverskeurende huile – iiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiaaaaaaaaaaaaaaaaannnnnnnnnnnnnnnntooooooooooooooooooooooo! Wanneer Mishka swaarkry by die skool, wanneer die saamgestelde gesin sy tol eis, wanneer Mishka na haar pa verlang of sommer net: iiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaannnnnnnnnnttooooooooooooooooooooooo!!
Die kind is in rou.
Die ma se hart pyn oor haar kind se verlies.
Iiiiiiiaaaaaaaaannnnnnnnnnntooooooo!!!
Na kuiertjies by Ianto is dit nog erger.
Iiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiaaaaaaaaannnnnnnnnnntooooooo!!!
Die ma se hart is stukkend, ek kan nie dit aan my kind doen nie?
Sy kry sooo swaar.
Ek sal MOET vir haar ‘n perd kry.
Haar eie perd.

En so begin ons soek vir Mishka vir haar eie perd, wat sy kan ry wanneer sy wil, vir hoe lank sy wil.
Ek is elke dag op die junkmail.
Ek maak die afrigter gedaan.
Die ma wil nou aanbeweeg. Sy het genoeg van hiedie smartkrete in haar huis.

Ek kry hierdie ongelooflike mooi swart vriesperd, Marco,  teen ‘n te-goed-om-waar-te-wees prys op die junkmal.
Afrigter sê ons moet mail en uitvra.
Die perd is in Kenia, die vrou het hom opgevlieg nadat haar dogter oorlede is.
Dit was haar dogter se perd. Die perd pas nie aan nie. Sy soek net ‘n liefdevolle huis.
Die ma raak erg opgewonde.
As iets te goed om waar te wees, dan ìs dit te goed om waar te wees.
Die antwoord kom, die perd is nog beskikbaar, maar die perd moet eers deur mediese toetse gaan, dit kos R2000.
Ons kan dit solank oorbetaal.
Hy moet daarna ook in kwarentyn gaan voor hy vlieg, dit kos R5000.
Die ma kry snuf in die neus.
Gelukkig het ons mos nou mos ‘n vriend, Google. En sowaar!
Hierdie pragtige swart vries is ‘n scam!
Marco is toe in Durban, Kaap en Jhb geadverteer onder verskillende name met verskillende ruiters.
Ons het gelukkig niks verloor nie, ander belangstellendes het R5000 en meer verloor.

Waar kry jy ‘n ordentlike perd teen ‘n ordentlike prys?

Ons ry na Benoni toe vir ‘n toetsrit op ‘n perd.
En daar staan die 5 jarige Cinrick Lariq.
‘n Grys Quarab. (Quater horse en Arabier kruis)
Hy gedra hom heel beleefd met die erg senuagtige Mishka op sy rug,
die afrigter sê sy dink hy is
Dié Een.

Die ma slaan in swete uit.
Ek dink nie ek was so angstig voor my troue nie!

Wat as hulle hom moeggemaak het voor ons daar was?
Wat as hy ‘n ongeskikte perd is?
Wat as hy beserings het wat ons nie van weet nie?
Kan hy ooit spring?

Sjoe, wat ‘n besluit! As jy besluit om te trou is dit maanskyn en rose in jou oë, as jy besluit om ‘n perd te koop is dit dollartjies wat voor jou oë verdwyn.
My kind se oë blink.
Die ma wik en weeg en vee angs-sweet van haar lyf af.
Ons onderhandel, ons kan Lariq gaan haal teen ‘n beter prys.

Ons almal wonder wat se dramas Lariq gaan uithaal as hy die boks moet klim, en daar stap Lariq sommer in die ‘horse box’ in, en so stap Lariq so saggies in ons lewe in.  
Die punt van ons almal se harte.

Lariq is ‘n karakter op sy eie, met sy groot persoonlike ruimte vir perde en geen persoonlike ruimte vir mense.
Lariq het die manier om so stadig, hoefie vir hoefie, nader te skuif aan jou.
As jy weer sien, staan hy hier in jou gesig en eet saam met jou!
Hy is aanmekaar opsoek na iets te ete in iemand se hand. Jy moet eers vir hom jou leë hande wys, dan maak hy seker deur daaraan te ruik, voor hy jou uitlos en na die volgende persoon beweeg op soek na ietsie.
My groente-rekening het heelwat gestyg van al die wortels wat Mishka na hom toe wegdra.  Elke keer as Mishka gaan kuier, bring sy vir Lariq wortels in ‘n plastieksak. Nou as ‘n sak raas, is Lariq langs die sak. Hy wag vir ‘n wortel, of enige iets om te eet!
Nou die dag by ‘n skou wil ons vir ons roomys koop by die roomysverkopertjies met sy ysboks, voor ons nog kon keer toe help Lariq homself ook sommer met ‘n lollie uit die ysboks! :)
Mishka sê al wat Lariq op hierdie stadium nie eet nie is Astros en pienk roomys!

Op ‘n ander skou deel hulle molasse-koekies uit.
Lariq is absoluut MaL daaroor, in so ‘n mate dat ek maar vir hom ‘n sak vol koop.
Ok, hy draai die ma maar ook om sy hoef…
Op die skou sit ek alles in ‘n rugsak, want tussen my kind se hoed en lat, perd vashou, water  en lappe om hom skoon te hou het jy nie genoeg hande nie.
Ons sit die molasse-koekies in die rugsak want as hy en Mishka ‘n klas klaar gespring het, kry hy ‘n koekie as beloning.
Die klits sien toe ons sit dit in die rugsak!
Toe ek weer so lekker sit en wag vir hulle volgende klas, is hy besig om uit te werk hoe om die zip van my rugsak oop te maak vir ‘n koekie!

Op een van Mishka en Lariq se eerste spring-oefenskoue knaag die senuwees erg.
Mishka baie onseker. Voor die ‘jumps’ is  sulke mooi potplante en olifantsore vir versiering en om die moeilikheidsgraad te verhoog.
Mishka en Lariq lê aan vir ‘n dubbel-jump. Mishka te bang. Lariq onseker en daar besluit
hy, no way! hier spring ek nie oor nie en steek vas!
Mishka gly-gly voor bo-oor sy kop af, en kom verstrooid op na ‘n rukkie en skree vir die judge: “Kan ek aangaan?!” 
Die judge stem goedhartiglik in en Mishka en Lariq kom weer aangedraf.
Spring mooi oor die eerste jump, die tweede jump buk Lariq af, Mishka amper weer af, sy kom holderstebolder op, Lariq kom op met ‘n groot olifantoor in sy mond en spring oor! En daar spring Lariq en Mishka nog so ‘n paar jumps met die groot blaar langs sy mond tot dit uiteindelik uitval!
Almal rondom die arena het geskater! 
Hy wou net ‘n vinnige happie vat voor hy spring! :)

Nou die dag toe kom Mishka bietjie laat en dit is etenstyd vir Lariq. Sy haal sy bak uit die stal uit en neem hom uit om te oefen in die dubbelring.
Hy is nie baie lus nie, hy wil sy kos hê, al die ander kan dan al eet!
Hy word gepiets en rondgejaag deur Mishka.
Lariq wip hom.
Mishka draai haar rug op hom om vir hom ‘n jump te maak om oor te spring.
Lariq stap doodluiters hek toe, lig die paal op en kruip onderdeur, toe sy weer sien is hy sterk oppad na sy stal toe!
Hy stap nie voor om waar almal hom kan sien en keer nie, nee! Hy stap ewe agter na die verste deur naaste aan sy stal om in te gaan.  



En so vermaak Lariq ons byna elke dag met iets enig in sy karakter.

Lariq was die beste ding wat ek nog kon gekoop het, hy bring soveel pret, vreugde en terapie in ons harte dat ons hom nooit sal verruil vir enige iets nie!



 Lariq en Mish in Eventing.




Juffrou, my sussie se perd het my Wetenskap huiswerk geeët...

Trou of perde koop?
Mmmm – moeilike besluit…
Hulle kruip so diep in jou hart…


 Mishka en Lariq op 'n training-show.
 

Monday, 10 September 2012

Uil op ‘n kluit wag vir die wrede wolf.


En hier sit ek nou soos ‘n uil op ‘n kluit met my vinger waar-ookal en wonder wanneer gaan hierdie wolf-tweestryd eendag minder word?

Ek en my kinders se pa skei mos toe so 7 jaar terug. My oudste was so 9/10 jaar oud. Graad 3/4 se kant. My kind kry swaar. Almal kry swaar.
Dis mos ‘n hartseer wat jy nie eers vir jou grootste vyand wil toewens nie.
My kind cope nie.
Ek probeer wraggies alles. Sielkundige beveel anti-depressante aan, die pilletjies help haar deur die ergste smart.

Die lewe stap aan..
Daar doer êrens in die verte lê ‘n honger wolf en loer..
Graad 6 (12 jaar) trek ons in ‘n nuwe huis in, met rooskleurige brille, hartjievormige oë en  blink idees hoe ons ‘n nuwe gesin gaan bou.
Sussies- nuut en oud – baklei.
Ouers probeer reëls neerlê.
Konflik konflik konflik.
Konflik tussen x’e, tussen nuwe ma’s  en nuwe skoonma’s, tussen nuwe man en vrou, tussen kinders, nou het jy sommer ‘n hele x familie bygekry om te hanteer, wat nog van die x-vrou!
En almal wil net die beste vir die kinders hê…
Die wolf lê doer eenkant ek glimlag breed.

Hier so teen September raak my kind weer stil, ons sukkel maar so aan. Graad 7 kom, almal opgewonde, laaste jaar van laerskool!
Ons gaan die jaar deur met op-en-af op-en-af. Ons het immers twee super emosionele begin-tieners in die huis en ‘n net so erge emosionele tweenie en ‘n hele spul x’e met issues.
Ek en die nuwe man skep net so af en toe asem in die stryd…
Die wolf sluip ongesiens effens nader.

Hoërskool kom, my kind sukkel. Sy kry swaar. Moeg geleef. Psigiater beveel weer pilletjies aan. Ons het Graad 8 gemaak – hoera!
Die wolf kruip skelm-skelm nog nader.

Ons pak Graad 9 aan met nuwe moed. Stiefsussie kry annorexia.
Hel.
Jy sien hoe die kind onder jou oë wegkrimp en wegkwyn.
Almal is uit beheer uit.
Die wolf lek sy lippe af…
Sy kan nie help sy sny die visvinger in 16 stukkies en eet net een stukkie nie, sy kan nie help om vleis in haar handsak weg te steek nie, ‘n appel word ‘n uur se maaltyd.
Ons sien hoe die beentjies dunner raak, hare in bosse uitval, hoe haartjies om haar lyfie groei vir warmte, ons sien hoe sy nie krag het om 20m te loop nie..
Ons almal leef in angs en super stres.
Elkeen het ‘n ander plan hoe om dìe situasie te hanteer.
Almal wil help. Word kwaad – hoekom probeer jy nie dit nie?!
Forseer die kind om te eet!
Neem haar na ‘n duiwelsuitdrywer!
Gee haar homeopatiese pilletjies!
Stuur vir haar energie!
Die arme pa, hy baklei hand-en-tand teen die wolf.
Hy is die enigste steunpilaar.
Almal rig hul vrees en angste op hom.. Hy moet staande bly. Hy word oornag grys.
Ons bid bid bid en hang net aan stringetjies en klou om nie ook in die donker gat te val saam met die wolf nie..
My kind huil, haar nuwe sussie gaan dood, sy weeg dan net 28kg…
Die wolf wys sy geel tande en lek sy lippe af.
Ons kom daardeur – erg geskaad en geknou, maar hegter.
Die vrees vir die donker wolf om weer uit te spring leef elke dag saam met jou.

My kind se pa bedank sy werk vir groener weivelde aan die anderkant.
Die wolf gebruik sy kans. Hy gryp!
Sy moet Graad 9 eind-eksamen skryf. Dit gaan taai. My kind kan nie meer nie. Sy is moedeloos, wil nie leef nie. Sy beland in Denmar. Sy kom deur op haar jaarpunt.
Ons hou vakansie.
Boggoms bring lag en lig.
Ons sien weer kans om aan te gaan!

Die gras is toe morsdood aan die ander kant.
Sy vrou skop hom uit. Moeg vir die bravades.
My kinders bekommer hulle dood oor hulle pa, hulle ma bekommer haar dood oor die onderhoud wat net weg is.
Stres neem toe.
My kind voel verantwoordelik.
Die wolf glimlag breed met sy kwylende mond, nog ‘n prooi is op die horison..

Julie Graad 10 begin, die afdraande begin weer, ons ruik die wolf se stink asem.
Die ma raak moedeloos.
Praat moed in, troos, gee raad, psigiater gee weer medisyne. Baklei hand en tand om die wolf weg te hou.
Die ma kry toe darem weer vir die pa werk – vêr – in Mafikeng.
Dankie dankie dankie vir vriende.
Ons sukkel.
Ons stoei om uit die gat te bly.
Ons baklei  met die wolf.
Die pa is afwesig.
My engelkind begin haar sny. Diep snye op haar polse. Sy wil nie meer skool toe gaan nie. Die kinders maak haar moeg. Die snye word dieper.
Die sielkundige praat en praat en praat.
Die ma bekommer meer en meer en meer, weet nie wanneer sy iets gaan aanvang nie.
Haar nuwe man spook om sy eie wolwe weg te hou.

Als is te veel vir haar om te dra.
Die wolf kruip nader…

“Mamma, mamma! Ek MOET met jou praat. “NOU!”.  
Ai, ek het regtig nou vir die eerste keer ontspan vandag, net ‘n halfuurtjie haar alleen gelos. “Wat is dit sussie?” “Mamma? “
 “Wat sussie?!” “Mamma ek het pille gedrink.”
Die wolf is op die Ma. Sy is wit geskrik.
“Wat se pille?
Hoeveel?
Wanneer?”
Ons jaag hospitaal toe.
Ma bel die Pa. Toevallig is hy in Pretoria die naweek.
“Ons kind het ‘n oordosis slaappille gedrink.”
“Nee, ek kom nie nou hospitaal toe nie, gee haar ‘n ordentlike pak slae. Sy maak droog.”
Die wolf lag uit sy maag uit, die ma sug met ‘n pyn in haar hart.
Tussen die houtskooloplossing, opgooi en inpomp – “Mamma, waar is Pappa?”. “Hy kom nie my kind, hy sê Centurion is te ver.”
Die wolf lag harder.

Met die hulp van Bo, kry ons die volgende dag ‘n afspraak by ‘n wonderlike psigiater. Sy is bereid om  ‘n pad te stap met ons. Diagnoseer my kind met bipolêre depressie.
Die wolf skop die Ma voluit in haar maag. Sy snak na asem, haar wind is uit.
Navorsing, navorsing, navorsing.
Medisyne, medisyne, medisyne.
Die balanse kom nie reg nie, my kind wankel op die rand van die gat.
Die wolf kruip nader.
Die eksamen kom nader.
Die gat se rand raak al gladder.
Die wolf grom, my kind val, val, val.
Ons beland weer in Denmar.
Die ma, die dokter, die sielkundige baklei met skool, onderwys departement– sy MOET eksamen skryf.
 “Kan julle nie sien die kind is siek nie!!!?”
Erg traumaties.
Die vakansie breek aan.
Boggoms bring lig en lag.
Die gat is te groot.
Die wolf trek te hard.
My kind kom net halfpad uit.
Die lig is te ver.

Februarie 2012 val ons weer af in die gat.
Kan nie elke liewe dag so hard baklei teen die wolf nie. ‘n Mens word moeg.
Een oomblik van wegkyk en jy val, val, val.

Die tweede opinie in Denmar sit my kind in ‘n chemiese straight-jacket.
My kind is ‘n “is”.
Die wolf is weg, die gat is weg, die konsentrasie is weg, die huil is weg, die lag is weg, die lig is weg, dis net ‘n “is” wat oorbly.
Die werks-agterstand, die druk , die tempo, alles te veel.
Die wolf kruip stadig nader, hy maak ons angstig, hy wys sy tande, sy asem stink, hy is bang vir die medisyne.
Hou sy afstand, ook maar net-net.
Ekstra klasse en nogmaals ekstra klasse.
Die toetse kom, die halfjaar eksamens kom, die rapporte kom.
Die wolf lag en lag en lag met sy sluwe tande. Hy probeer byt byt byt.

Die ma moet ‘n plan maak.
Wat?
Medikasie word aangepas – my kind kan nie langer ‘n “is” wees nie.
Die gat se rante raak gladder, die ma baklei teen die wolf, hy gaan nie DIE keer my kind aftrek in die gat nie.
Die gat word gladder en gladder.
Ons verander skoolvakke, ons gaan sien onderwysers, ons sien die sielkundige.
Nog ‘n mediese opinie.
Nog ‘n bipolêre diagnose.
Die wolf lek sy lippe af. Hy kan nie WAG nie! Ons raak bang.
My kind raak moeg baklei.
Die ma is gedaan.
Help asseblief.

Ek en sy gaan sien die sielkundige saam.
Mevrou, jy het dan opgegee toe jy geskei het, hoe kan jy nou nie laat jou kind opgee nie? Mevrou, jou kind is nog nie oor die egskeiding nie. Mevrou, jy het aan te veel oplossings gedink en te min genurture.
Mevrou, sy het ‘n afwesige pa.
Mevrou, jou kind moet jou, haar pa en haarself vergewe.
Is jy bereid om vir jou kind jammer te sê aan wat jy aan haar gedoen het?

Die ma is platgeslaan.
Ek het wraggies alles probeer.
Ek hét my bes probeer.
Ek gee nie op nie.
Ek het regtig probeer om dit so maklik as moontlik te maak vir my kinders, om altyd daar te wees vir hulle.
Kon sy dit nie agtergekom het gedurende hierdie twee jaar wat sy my kind behandel het nie? Besef sy dan nie die belangrikheid van skool-opleiding nie?
Iemand moet my kind leer uithou en aanhou.
Mevrou, MOET is ‘n baie sterk woord. MOET teenoor jou kind se lewe?
Wat is die belangrikste? MOET matriek of MOET lewe?
Die wolf lag sy wrede lag te lekker.

Die ma voel alleen, moedeloos.
Sy gaan sit op ‘n kluit.
Doer in die verte sien sy hoe die wolf nader kruip om haar kind weereens te gryp.
Wat maak sy?
Aanhou,
moed inpraat,
aanhou en uithou tot my kind eendag self besluit om die wolf te weerstaan,
ek kan tog nie my kind vir die wolwe gooi nie?

Soms ruik ons die wolf se asem, soms moet ons hard baklei om uit sy kloue te bly, soms lê hy vêr eenkant en ons kan effens asemhaal en lag.
Ons probeer allerhande wapens te gebruik om die wolf te jaag, want net dalk, dalk raak die wolf bang genoeg om vir altyd weg te hardloop, maar
intussen moet die ma op die kluit elke dag loer en dophou en rondkyk, want ons weet nooit wanneer die wolf weer gaan toeslaan nie…

Monday, 3 September 2012

Perde en dinge..

Hierdie het ek 2006/2007 geskryf..

Ok, waar begin ek??

Angeline en haar sêgoed..
Almal ken Angeline.
Raakvatter Angeline.
Angeline wat so in jou persoonlike ruimte kan klim dat jy kan stik daarvan.
Angeline wat nie omgee om my of die kinders uit te trap as ons nie na haar sin skoonmaak of optree nie.
Soos nou die oggend – Mishka is ERG moeilik.  En kyk, Mishka kan erg opstroppelis raak.
Ons sit almal om die ontbyt-tafel en probeer maar die vrede te bewaar, ons probeer immers om vredevol die oggend uit die huis te gaan..
Angeline haak mos toe af teenoor Mishka (of sal ek sê, seker eerder teen my – maar natuurlik so dat almal dit duidelik kan hoor:  “Hulle sê mos – die blaar val nie ver van die stangel af nie..” (Die appel val nie ver van die boom af nie). Ek was lekker vies, maar dit was nogal ‘n snaakse gesegte.
Net soos sy praat van fiekse (fietse), klitspap (kitspap) en mini-steaks (minute steaks).
Sy bly maar ‘n karakter – en op hierdie stadium my onmisbare voor-op-die-wa butler.

Die perd-storie. Sug.
Ek het mos laasjaar besluit ek en die 3 dogters gaan begin perdry. Goeie “bonding experience” – en ek wou nog altyd perdry-lesse neem.
Nou kyk, Clarissa is ‘n stadsmeisie. Sy hou van opdress en mooi maak. Sy hou nie van stof en veld en sulke dinge nie. Gee haar net ‘n spul mense om haar en sy is op haar gelukkigste, of ‘n lekker party!
Almal is redelik positief , dog versigtig. En so ry ons elke Woensdag-middag, eers stap, toe wip-wip en draf. Soms lyk die arena soos die wilde weste soos ons hop en draai en gil dat die perde nie hulle eie koers moet inslaan nie – groot pret.
So is dit toe ook dat Clarissa een warm middag Princess ry – sy moet agter ry, want Princess skop die ander perde. Een perd kom te naby aan haar en daar bok Princess!
Clarissa reg oor haar kop op die grond!
Wit geskrik.
Ons ook.
Haar arm heel moontlik gebreek. Hospitaal toe. Plate. Gelukkig net verstuit.
Perdry verby – vir ewig. Dit kos mooipraat om haar weer die volgende Woensdag te laat op klim. Sy klim op, bewe soos ‘n riet. Ry die les. Klim af en klim tot nou toe nog nie weer op ‘n perd nie.
Marike ry nog twee keer. Sy is ook klaar.

Mishka? Die een wat ons nou wraggies dit die minste van verwag het, besluit om aan te hou. Ek verander van afdeling by die werk en kan ook nie meer Woensdae ry nie.  

“Mamma, Oupa sê jy moet eers 7 keer van ‘n perd afval voor jy kan perdry..” Sy trek seker nou so by 3 keer..

Die afrigters besluit toe Mishka moet begin skole skoue ry. Ek dink dit is ‘n goeie idee, dan werk ons na iets, sy leer beter ry en die skool gee hulle erkenning daarvoor.
Die eerste skole-skou gaan Mishka op Moonlight ry – so ‘n wit ponietjie. Pragtig. Die goedigheid van self..

Skole –skoue.. WAT ‘n STORIE!

“Horse-box “ reël vir die vervoer van die perd, die perd moet die vorige dag gewas en silwerskoon gemaak word.
Uitgekam word, maanhare en stert gevleg word.  
Die saal, toom en stiebeuels moet gewas word.
Ek en Mishka het ons VREK gewerk.
Die volgende oggend (skou-oggend) moet ons half 6 daar wees om die finale skoonmaak te doen – geen slaap in die perd se oë, geen gras-spoegsels in die mond, geen grasstokkies in stert..; emmers en gras in gepak.
En dan natuurlik.. die laai van die perde.
En toe ontaard die liefdevolle Moonlight in ‘n sterk groot boerperd!
Sy WEIER om in die horsebox te klim.
Nou kyk, as die perd nie wil klim nie, kan Mishka nie aan die skou deelneem nie, of laat kom vir haar item. Wat ‘n gestres. Op die ou end is die horsebox in ‘n hoek getrek en met ‘n groot paal en ‘n paar sterk hande en baie raas en paai, is Moonlight in.
En daar gaat ons!
By ons eerste skou aangekom – totaal oorweldig! Ongeveer 600 perde, ruiters, afrigters, ouers, oupa’s en ouma’s. Moonlight sopnat gesweet van angs. (en ek)

Wat weet ek nou van ‘n kampie of toue of ‘n ‘groom’ (iemand wat jou help)?
En daar moet ek en Mishka die hele dag vir Moonlight aan haar leiband lei soos ‘n hond. Nou kyk, ‘n hond kan jy nog in ‘n mate beheer waar jy wil gaan.
 ‘n Perd? Jy gaan waar hulle wil gaan – hulle is net te sterk.

Eindelik kom Mishka se eerste kompetisie aan die beurt. Hoewe swart gepolish – blinkers op lyf, hare in plek, en en en..
Oupa en Ouma het ook intussen opgedaag met hulle breë-rand hoedens en opslaanstoele.

Maar kan jy glo??! Daardie dag is liefdevolle, sagte, ou Moonlight halstarrig verby. Tydens opwarming kies Moonlight koers om uit te kom uit die arena! Ons staan in die opening en sy gooi  ‘n draai–stop.  Mishka wip wip op haar rug. Natuurlik in trane en BAIE kwaad vir Moonlight!

Ons beweeg stadig na die Dressage arena met Mishka en Moonlight. Ons besluit as Mishka in die arena instap – staan ons almal in gelid in die opening, dat Moonlight nie weer hasepad kan kies nie.
Mishka groet die judges en stap rustig af om in die arena te kom. Waar sy moet regs draai arena toe, besluit Moonlight “Not for me!” en draai links en sit die pad baie vinning terug na ons opslaan-area in!
Ons is in skok, Mishka huil, ek begin toe agter die perd aanhardloop – weet nie waar sy gaan stop nie, netnou gooi sy vir Mishka af!
Toe ek weer kyk, kom Oupa hier verby my gesprint met sy hoed in die hand!!  Oupa het toe uiteindelik vir Moonlight gevang.
Almal onsteld en vies en kwaad.

Die tweede kompetisie het ons behoorlik die ingang toegestaan en Moonlight het met ‘n paar swenke maar in die arena gebly…
Daardie aand was ons altwee asvaal van stres, stof en moegheid! 
Wat ‘n dag!

Nodeloos om te sê, die tweede skou het Mishka op Lucky gery en ek het vir Anton, ons goedige Mosambiekertjie saamgevat as groom.. Dit het darem bietjie beter gegaan..
Mishka en Lucky

Mishka en Merrie Moonlight