Die land gons oor ons ou blade-runnertjie.
Dit
het ons almal op ‘n manier getref – diep getref.
Ek is nog self in skok en vertwyfeling.
'n Mens se hart is so seer, maar jy verstaan nie heeltemal hoekom nie...
Aan die eenkant kry jy hom so jammer daar waar
hy op die grond in die tronksel slaap en aan die anderkant wonder jy wat wat op
aarde het hom besiel?
Hy lyk so weerloos as hy kopbukkend in die
hofsaal staan, jy wil sommer al die fotograwe met hulle vieslike kameras wat
aanmekaar flits, verwilder.
Soos honger hiëna's gaan hulle te kere.
Kan julle nie sien hoe hartseer is die ou al
klaar nie?!
Hy rou.
Hy het pyn.
Hy het spyt.
Aan die anderkant wonder jy wat de hoenders
het hy aangevang?!
Maak ook nou seker nie saak wat gebeur het nie,
of hy skuldig is of nie, en of dit uit selfverdediging vir ‘n moontlike skelm
of ‘n daad van passie was, hy sal vir ewig die letsels dra.
Diep, groot snyletsels in sy hart.
Hoe staan ‘n mens op uit so iets?
Hy het vir ons met trots gewys hoe jy die
hoogste sport kan bereik al het jy nie bene om op te staan nie.
Aanhouer wen.
‘n Gestremde persoon neem deel in die olimpiese
spele vir normale mense.
Hoeveel durf het dit nie ge-eis nie?
Hoeveel harde oefening van bloedsweet en
aanhou en vasbyt en naarword het dit nie gevat nie?
Hoeveel baklei vir regverdigheid het dit uit
jou getap?
En in een oomblik verander jou hele hele
lewe..
Twee dae voor Oscar se Valentynsdag word ons
lief-vir-vry vyfmaand oue katjie voor ons huis se rug morsaf gery. Sy
sukkel-sukkel op haar voorbeentjies verder. Later die dag word sy uitgesit.
Ons
almal hartseer.
Die een oomblik was sy nog by Neels vir ‘n
vryfie, die volgende oomblik lui ons hekklokkie..
Dit het so vinnig gebeur..
So ‘n paar dae na Oscar se nare Valentynsdag
vind ek uit my kollega het sy vrou binne 24 uur aan breinvliesonsteking
verloor.
Net so ewe skielik.
Hulle het nog gelag en gespeel saam met hul kinders, hul
vakansie geniet en die volgende dag is sy dood.
Net weg.
Vir ewig.
Dit laat mens dink..
Jou lewe kan in een oomblik onherroeplik
verander.
Net so.
Ewe skielik.
Ons waardeer te min en jaag te veel.
Waardeer jou huis, jou kar, die dinge rondom
jou,
dit wat jy het,
die mense rondom jou,
die mense wat lief is vir jou,
vir wie jy lief is,
die dinge wat jou hart raak,
die dinge wat jou gelukkig maak.
Maak tyd
vir jou huis,
jou geliefdes,
die natuur,
vir lag en blydskap,
vir vrede,
vir omgee,
jou hart,
jou siel,
Want wie weet,
dalk net môre,
‘n oogknip ver,
Verander jou lewe onherroeplik - vir ewig.