Wednesday, 24 April 2013

Voëltjies met rooi hakskeentjies in te klein nessies en katte met room


“Mamma! Kyk daai ou baba-voëltjie het uit sy nessie geval!” sê my oulike klein dogtertjie en ons neem die voëltjie huistoe om te probeer groot te maak. Soos gewoonlik maak die voëltjie dit nie.
Soos my kinders groter word deur die jare het ons baie voëltjies en duifies probeer groot maak, soms met sukses, die meeste nie.  
Nou die dag sien ons weer ‘n duifie op die grond – my tienerdogter loop verby en wonder waar is die ouers. Die ma sê toe “Nee, die duifie is al groot genoeg , die nes is te klein -hy het seker sy ouers begin irriteer in die nes.”

En so raak my huis mos ook so kriewelrig en te knap met al die groeiende, etende tieners.
“Mamma, gaan uit my kamer uit!
Jy is in “my space”! “
Oral lê daar tieners op die banke rond en knaag knaag knaag, of die harde musiek in jou ore gee jou pyne in jou lyf waarvan jy nie eers geweet het nie.
Straf bly maar ‘n probleem – kan nie meer ‘n lekker warm boud gee nie, moet oor alles redeneer en redes verskaf en afpers met as jy dit nie doen nie, dan doen ek dit nie.
Hierdie emosionele wipplanke van hormoon-belaaide rooihakskeen dogters maak die ma klaaaaar.

So doen my jongste mos nou die minimum in die skool, die ma is raadop. 
“Mamma – ek gaan nie my boeke vir jou wys nie!
Vertrou Ma my nie?
Rêrig Ma!
Hou op om so in my space te wees!
Ek doen mos my werk!”
Al wat die ma hoor is hoe die een kinderagtige dogtertjie nou weer skinder en wat daai ou simpel seuntjie weer aangevang het en hoe groot haar ‘ass’ is en haar hare moet weer gekleur word en die ou hemp laat haar heupe te groot lyk en en en.
Die ma se kop moet inrat kom, want op ‘n manier moet ons die akademie ‘n prioriteit maak. Ek wil nie die perdry wegvat nie, want dit is haar enigste uitlaatklep.

So kom die toetse en die minimum word gedoen – “Rêrig Ma! 
Ek is nie meer klein nie.
Ja, ek ken my werk. 
Ek het dit al twee keer deurgegaan!! “
Die ma is moeg gebaklei, hopelik is ‘voel aan jou lyf’ ‘n goeie leerskool.

Die rapporte kom, dit word eers so stilweg twee dae van my af weggehou, en ek weet sommer, die punte lyk nie soos dit moet nie.
Die ma is nog steeds raadop – wat gaan ek doen moet hierdie kind?!
So moeg om te onderhandel met die superslim tiener – Ja, as jy soveel kry, ja okay, dan  kan ons kyk of ons dit kan kry vir jou perd.
Onderhandel, onderhandel, onderhandel.

Wat van doen net ‘n ding?!!!!

Bo verbasing lyk die rapport nie té sleg nie – maar ek besluit toe tog maar om oueraand toe te gaan.
So vind ek mos toe uit mêrrem doen een keer ‘n week nie haar Afrikaanse huiswerk nie, en het ‘n paar inskrywings van te veel praat in die klas. Ek en die meneer skinder lekker oor rooihakskeentjies en hormone en ek vra hom om haar reg voor in die klas te skuif.
Mêrrem lê lekker uitgestrek op die bank voor die tv toe ek by die huis kom.
Lui-lui , selfversekerd maar hoogs nuuskierig “Ma, wat sê die onderwysers?”
“Meneer Afrikaans sê jy doen nie gereeld jou Afrikaanse huiswerk nie, en jy praat te veel in die klas. “
Sy giggel met bravade.  “Ek het hom gevra om jou reg voor in die klas te skuif.”

Die lui tiener spring regop met ‘n spoed van wit-lig.
“Ma, het WAT?!!!”  
“Ek glo dit nie!!!!”
Ja, as jy nie kan konsentreer waar jy sit nie en te veel praat met die outjies, moet hy jou help om beter te konsentreer.
“Ma!!! Ek sterf!!! 
Daai meneer sal voor  ALMAL môre in die klas sê my ma het gesê ek moet voor in die klas sit!
Hoe KAN Ma so iets aan my doen??!!
En dan sê Ma nog ek praat met die outjies!
Hoe laat dit my lyk?!!!
Ek glo dit nie!!!” 
Ek is nog verantwoordelik vir jou, as jy nie jou werk doen nie, en jy kan nie self kyk dat jy dit doen nie, moet ek maar ‘n plan maak.

Die ERG vernederde tiener storm na haar kamer toe en sit haar musiek kliphard. Gelukkig slaan sy die deur toe so ek hoor nie eintlik die musiek nie…

Die ma sit rustig op die bank en lyk soos ‘n kat wat room gekry het.
Vatso my ou voëltjie, hierdie bly nogsteeds MY nes!

Thursday, 21 February 2013

In ‘n oogwink.


Die land gons oor ons ou blade-runnertjie. 
Dit het ons almal op ‘n manier getref – diep getref.
Ek is nog self in skok en vertwyfeling.

'n Mens se hart is so seer, maar jy verstaan nie heeltemal hoekom nie...
Aan die eenkant kry jy hom so jammer daar waar hy op die grond in die tronksel slaap en aan die anderkant wonder jy wat wat op aarde het hom besiel?
Hy lyk so weerloos as hy kopbukkend in die hofsaal staan,  jy wil sommer al die fotograwe met hulle vieslike kameras wat aanmekaar flits, verwilder.
Soos honger hiëna's gaan hulle te kere.
Kan julle nie sien hoe hartseer is die ou al klaar nie?!
Hy rou. 
Hy het pyn. 
Hy het spyt.
Aan die anderkant wonder jy wat de hoenders het hy aangevang?!

Maak ook nou seker nie saak wat gebeur het nie, of hy skuldig is of nie, en of dit uit selfverdediging vir ‘n moontlike skelm of ‘n daad van passie was, hy sal vir ewig die letsels dra.
Diep, groot snyletsels in sy hart.

Hoe staan ‘n mens op uit so iets?
Hy het vir ons met trots gewys hoe jy die hoogste sport kan bereik al het jy nie bene om op te staan nie.
Aanhouer wen.
‘n Gestremde persoon neem deel in die olimpiese spele vir normale mense.
Hoeveel durf het dit nie ge-eis nie?
Hoeveel harde oefening van bloedsweet en aanhou en vasbyt en naarword het dit nie gevat nie?
Hoeveel baklei vir regverdigheid het dit uit jou getap?

En in een oomblik verander jou hele hele lewe..

Twee dae voor Oscar se Valentynsdag word ons lief-vir-vry vyfmaand oue katjie voor ons huis se rug morsaf gery. Sy sukkel-sukkel op haar voorbeentjies verder. Later die dag word sy uitgesit. 
Ons almal hartseer.
Die een oomblik was sy nog by Neels vir ‘n vryfie, die volgende oomblik lui ons hekklokkie..
Dit het so vinnig gebeur..

So ‘n paar dae na Oscar se nare Valentynsdag vind ek uit my kollega het sy vrou binne 24 uur aan breinvliesonsteking verloor.
Net so ewe skielik.
Hulle het nog gelag en gespeel saam met hul kinders, hul vakansie geniet en die volgende dag is sy dood.
Net weg.
Vir ewig.

Dit laat mens dink..
Jou lewe kan in een oomblik onherroeplik verander.
Net so.
Ewe skielik.

Ons waardeer te min en jaag te veel.
Waardeer jou huis, jou kar, die dinge rondom jou,
dit wat jy het,
die mense rondom jou,
die mense wat lief is vir jou,
vir wie jy lief is,
die dinge wat jou hart raak,
die dinge wat jou gelukkig maak.

Maak tyd
vir jou huis,
jou geliefdes,
die natuur,
vir lag en blydskap,
vir vrede,
vir omgee,
jou hart,
jou siel,

Want wie weet,
dalk net môre,
‘n oogknip ver,
Verander jou lewe onherroeplik - vir ewig.


Thursday, 7 February 2013

Hansie en Grietjie word tieners.



Eendag was daar twee baie slim en alwetende tieners, Grietjie en Grikiki(sms-taal) wat by hulle ma en stiefpa gebly het. 
Nou kyk, daar is niemand slimmer as ‘n tiener nie. 
Hulle weet mos ALLES en die ouers weet NIKS, of jy nou al 30 jaar meer lewensondervinding het, maak nie saak nie, 
‘n tiener WEET ALLES.
 
So gebeur dit toe dat Grietjie en Grikiki hulle weereens wip vir hulle ma wat kerm omdat die hele woonkamer vol skoene, boeke en klere lê 
en buiten dit, 
nog twee lammes op die bank wat hierdie common model reality tv-program kyk. 
Die ou ma weet niks! 
Chillax Ma!! 
Die ma gooi ‘n tantrum. 
Wat te erg is, is te erg!

Die gekerm was toe nou net een te veel vir  Grietjie en Grikiki, en met hulle dik, opgeblase lippe besluit hul toe om die pad te vat.
In hierdie tronk bly hulle nie meer nie!
‘n Mens word mos soos ‘n slaaf hier behandel! 
Niemand behandel my sonder respek nie!
Die ma help hulle sommer toe om hulle ou rugsakkies te pak en gee ook sommer vir hulle geld om by MacDonalds vir oulaas ‘n hamburger te koop.

Die ma is in die sewende hemel!
‘n Netjiese woonkamer met tv na hààr keuse!
Geen gekerm oor kos nie, geen gekla oor dat daar niks in die huis is nie.
Geen dikbek-kinders wat sleepvoetend skoor soek nie.
Geen beskuldigings van geen aandag en voortrekkery nie.
Dit is hemels, amper soos in ‘n sprokie. 
Die ma geniet dit so dat sy net so af en toe wonder waar is Grietjie en Grikiki, maar sy is nie té bekommerd nie, want hulle is mos slim, baaaie slim. Sy is seker hulle sal regkom met al hulle kennis.

So verdwaal Grietjie en Grikiki toe mos nou in die bos opsoek na ‘n lekker plekkie om uit te kamp. 
Toe die magies begin leeg raak en die verlange net-net sy kop uitsteek, kry hulle hierdie oulike huisie om in te bly (nogals met dstv ook!), sonder enige irriterende grootmens.
Hulle stel hulle fone se musiek op die hardste en stel hop-hop ondersoek in.
Hulle is so voorspoedig, tot die kombuiskaste is vol lekkernye! 
Ek sê mos! 
Wat weet jou ma mos nou?!
Elkeen gryp ‘n groot pak chips en ‘n 2-liter gaskoeldrank en span uit voor die tv.
Dis mos nou die lewe!

Dit raak mos toe nou donker en die twee slimmes raak toe bietjie kriewelrig…
Die magies begin leeg raak en net miskien is daar iewers ‘n skelm wat inloer...
Ewe skielik is die stiefpa wat elke aand die huis sluit nie meer daar nie, en ai, waar is mamma se lekker kos?, dink hulle in hulle gedagtes, maar hul sal tog NOOIT erken hulle verlang nie!
Grietjie en Grikiki is nou ook eintlik al moeg tv gekyk, en hulle lywe is ook al lekker styf van al die lê.
Grikiki gaan haal maar toe vir haar nog ‘n pak chips en val haar amper kediks oor al die klere wat op die vloer lê. Sy wil-wil geïrriteerd raak, maar onthou vinnig dit is wat sy gekies het.

Grietjie en Grikiki raak toe sommer daar voor die tv aan die slaap (Hoe lekker! Niemand kla nie!). 
Hier in die middel van die nag word Grietjie wakker, al wat ‘n lig brand, dis koud en haar arm is dood van al die skeef lê, en met die  opstaan skop sy die bottel koeldrank om.
Als is taai!
Grietjie slaap toe liewer verder en glo  die taai vloer sal skoongevee word deur die feëtjies.

Die son kom op en Grikiki en Grietjie word verras wakker!
Huh?
Als is dan NET soos hulle dit gisteraand gelos het! 
Presies net so!! 
Kan dit waar wees?!
Die vloer is taai, orals lê chips-papiere en leë glase.
Hulle is koud en styf geslaap,  moeg vir lekkernye, daar is dan geen tee of pap nie!, als is deurmekaar!
Was die goeie fee dan nie hier nie???!
Wat ‘n ontnugtering!!
Huh? 

Duh?!

Grikiki: “Sussie, ek dink ons moet maar terug gaan, hierdie gaan nie uitwerk nie. Ons sal heeldag moet werk om die plek skoon te hou! Ek is nou ook al moeg vir hierdie simpel tv. Wie gaan kos maak? Het jy skoon klere? Ek is nou regtig moeg vir take-aways.”
Grietjie:”Ja, die huis is darem seker nie so bad nie…”
Grietjie en Grikiki stel hul fone se GPS op ‘Home’ en vat die pad huistoe.

Die ma hoor die klokkie lui. Aan die eenkant is sy bly, aan die anderkant sak haar moed in haar skoene…
“Hallo Ma. Ons is jammer Ma. Ons is lief vir Ma. Ma se kos is nogals lekker. Ons sal nie meer alles so laat rondlê nie, Ma. 
Dankie vir als Ma.”

En die ma word uit haar sprokie tot realiteit geruk as sy weereerns oor ‘n tas val wat op die vloer neergesmyt is…