Monday, 3 September 2012

Perde en dinge..

Hierdie het ek 2006/2007 geskryf..

Ok, waar begin ek??

Angeline en haar sêgoed..
Almal ken Angeline.
Raakvatter Angeline.
Angeline wat so in jou persoonlike ruimte kan klim dat jy kan stik daarvan.
Angeline wat nie omgee om my of die kinders uit te trap as ons nie na haar sin skoonmaak of optree nie.
Soos nou die oggend – Mishka is ERG moeilik.  En kyk, Mishka kan erg opstroppelis raak.
Ons sit almal om die ontbyt-tafel en probeer maar die vrede te bewaar, ons probeer immers om vredevol die oggend uit die huis te gaan..
Angeline haak mos toe af teenoor Mishka (of sal ek sê, seker eerder teen my – maar natuurlik so dat almal dit duidelik kan hoor:  “Hulle sê mos – die blaar val nie ver van die stangel af nie..” (Die appel val nie ver van die boom af nie). Ek was lekker vies, maar dit was nogal ‘n snaakse gesegte.
Net soos sy praat van fiekse (fietse), klitspap (kitspap) en mini-steaks (minute steaks).
Sy bly maar ‘n karakter – en op hierdie stadium my onmisbare voor-op-die-wa butler.

Die perd-storie. Sug.
Ek het mos laasjaar besluit ek en die 3 dogters gaan begin perdry. Goeie “bonding experience” – en ek wou nog altyd perdry-lesse neem.
Nou kyk, Clarissa is ‘n stadsmeisie. Sy hou van opdress en mooi maak. Sy hou nie van stof en veld en sulke dinge nie. Gee haar net ‘n spul mense om haar en sy is op haar gelukkigste, of ‘n lekker party!
Almal is redelik positief , dog versigtig. En so ry ons elke Woensdag-middag, eers stap, toe wip-wip en draf. Soms lyk die arena soos die wilde weste soos ons hop en draai en gil dat die perde nie hulle eie koers moet inslaan nie – groot pret.
So is dit toe ook dat Clarissa een warm middag Princess ry – sy moet agter ry, want Princess skop die ander perde. Een perd kom te naby aan haar en daar bok Princess!
Clarissa reg oor haar kop op die grond!
Wit geskrik.
Ons ook.
Haar arm heel moontlik gebreek. Hospitaal toe. Plate. Gelukkig net verstuit.
Perdry verby – vir ewig. Dit kos mooipraat om haar weer die volgende Woensdag te laat op klim. Sy klim op, bewe soos ‘n riet. Ry die les. Klim af en klim tot nou toe nog nie weer op ‘n perd nie.
Marike ry nog twee keer. Sy is ook klaar.

Mishka? Die een wat ons nou wraggies dit die minste van verwag het, besluit om aan te hou. Ek verander van afdeling by die werk en kan ook nie meer Woensdae ry nie.  

“Mamma, Oupa sê jy moet eers 7 keer van ‘n perd afval voor jy kan perdry..” Sy trek seker nou so by 3 keer..

Die afrigters besluit toe Mishka moet begin skole skoue ry. Ek dink dit is ‘n goeie idee, dan werk ons na iets, sy leer beter ry en die skool gee hulle erkenning daarvoor.
Die eerste skole-skou gaan Mishka op Moonlight ry – so ‘n wit ponietjie. Pragtig. Die goedigheid van self..

Skole –skoue.. WAT ‘n STORIE!

“Horse-box “ reël vir die vervoer van die perd, die perd moet die vorige dag gewas en silwerskoon gemaak word.
Uitgekam word, maanhare en stert gevleg word.  
Die saal, toom en stiebeuels moet gewas word.
Ek en Mishka het ons VREK gewerk.
Die volgende oggend (skou-oggend) moet ons half 6 daar wees om die finale skoonmaak te doen – geen slaap in die perd se oë, geen gras-spoegsels in die mond, geen grasstokkies in stert..; emmers en gras in gepak.
En dan natuurlik.. die laai van die perde.
En toe ontaard die liefdevolle Moonlight in ‘n sterk groot boerperd!
Sy WEIER om in die horsebox te klim.
Nou kyk, as die perd nie wil klim nie, kan Mishka nie aan die skou deelneem nie, of laat kom vir haar item. Wat ‘n gestres. Op die ou end is die horsebox in ‘n hoek getrek en met ‘n groot paal en ‘n paar sterk hande en baie raas en paai, is Moonlight in.
En daar gaat ons!
By ons eerste skou aangekom – totaal oorweldig! Ongeveer 600 perde, ruiters, afrigters, ouers, oupa’s en ouma’s. Moonlight sopnat gesweet van angs. (en ek)

Wat weet ek nou van ‘n kampie of toue of ‘n ‘groom’ (iemand wat jou help)?
En daar moet ek en Mishka die hele dag vir Moonlight aan haar leiband lei soos ‘n hond. Nou kyk, ‘n hond kan jy nog in ‘n mate beheer waar jy wil gaan.
 ‘n Perd? Jy gaan waar hulle wil gaan – hulle is net te sterk.

Eindelik kom Mishka se eerste kompetisie aan die beurt. Hoewe swart gepolish – blinkers op lyf, hare in plek, en en en..
Oupa en Ouma het ook intussen opgedaag met hulle breë-rand hoedens en opslaanstoele.

Maar kan jy glo??! Daardie dag is liefdevolle, sagte, ou Moonlight halstarrig verby. Tydens opwarming kies Moonlight koers om uit te kom uit die arena! Ons staan in die opening en sy gooi  ‘n draai–stop.  Mishka wip wip op haar rug. Natuurlik in trane en BAIE kwaad vir Moonlight!

Ons beweeg stadig na die Dressage arena met Mishka en Moonlight. Ons besluit as Mishka in die arena instap – staan ons almal in gelid in die opening, dat Moonlight nie weer hasepad kan kies nie.
Mishka groet die judges en stap rustig af om in die arena te kom. Waar sy moet regs draai arena toe, besluit Moonlight “Not for me!” en draai links en sit die pad baie vinning terug na ons opslaan-area in!
Ons is in skok, Mishka huil, ek begin toe agter die perd aanhardloop – weet nie waar sy gaan stop nie, netnou gooi sy vir Mishka af!
Toe ek weer kyk, kom Oupa hier verby my gesprint met sy hoed in die hand!!  Oupa het toe uiteindelik vir Moonlight gevang.
Almal onsteld en vies en kwaad.

Die tweede kompetisie het ons behoorlik die ingang toegestaan en Moonlight het met ‘n paar swenke maar in die arena gebly…
Daardie aand was ons altwee asvaal van stres, stof en moegheid! 
Wat ‘n dag!

Nodeloos om te sê, die tweede skou het Mishka op Lucky gery en ek het vir Anton, ons goedige Mosambiekertjie saamgevat as groom.. Dit het darem bietjie beter gegaan..
Mishka en Lucky

Mishka en Merrie Moonlight

Thursday, 14 June 2012

Kinders van Afrika (in die winter)

Elke winter as die koue so om my lyf kruip en die alarm jou in die koue donker wakker skree, besef ek maar weereens ek is ‘n kind van Afrika.
Die koue werk nou een maal NET nie vir my nie.
My skouers pyn.
My tone word rooi.
My vel verdor.
My lyf pyn.
My hele wese gaan staan en protester teen die koue.
Ek kan niks doen nie.
Ek sit net op hierdie hopie en hoop om warm te kry.

Gister oor die nuus hoor ek mos Sandspruit se plakkers hou ‘n protes-optog. Dit is soo funny, want waar het jy nou al gesien jy is heel moontlik onwettig in die land, plak op ‘n plek waar nie voorsiening gemaak is vir jou nie, en dan toi-toi jy nog oor wat ookal?! Ha-ha!

Die boemelaars, o die bedelaars!
Suid-Afrika is mos die reënboognasie en sowaar, ons boemelaars is ook so kleurryk.
Die outjie in Hatfield wat met sy bord staan en bedel vir geld vir karate-lesse.
“My wife was taken by Ninjas, I need R10 for karate lessons”. (Ek neem aan ‘n dronk student het hom help skryf!)
Die honger outjie by die sirkel, waar niemand stop nie en net verby jaag  met sy “Eks dood van die honger”-plakkaat (en dan skryf ek  by in my gedagtes – en vrek van die koue!) :)
Die dansende outjie by Menlyn wat sy hele lyf vol shoe-shine maak, net die oë en lippe is swart, tot die tone is spierwit! Deesdae is hy seker wit van die ys!

Ander het mos sommer nou horrelpote of af-rûe ontwikkel, môre is dit weer die ander voet en
as jy lank genoeg vir die L-vormige outjie kyk, raak sy rug te lam en dan kom hy maar op vir so ‘n rukkie, of stut hy strategies sy rug met sy arm.

Die wat die wit-waks uit my irriteer is die wat met hul leepogies heeltyd loop met hul voëltjiebek-vingers en aanmekaaaaar hand na maag na mond, hand na maag na mond, hand na maag na mond wys en
die wat op hulle knieë staan in die middel van die pad! sodat jy hom jammer moet kry! Dat een van hulle nog nie raak gery is nie, is ‘n wonderwerk!

Ai, en dan die ma’s wat langs die strate staan en hulle babas pêpa. Die arme kind se kop hang so skeef of is heeltemal ontwater van die hitte of vasgevries deur die koue!

Maar wanneer die koue so diep in jou been gaan lê en jy kruip in onder jou warm kombers, dan kry jy hulle ook maar jammer. Jy deel komberse, sop en geld uit, dalk kan die OBS hom vir ‘n nag warm hou, en so is ek maar weereens dankbaar dat ek ‘n goeie werk het net en in die drie maande-winter Afrika bly. Ons sal weereens ons deel doen hierdie jaar met Mandela-dag.


En elke môre as die wekker in die pikdonker-koue gil, wêêêns ek die son draai nou vinnig, en ek kan nou rêrig nie meer wag vir die lang lekker somer-maande van sweet en warm kry, die reuk van pas-gesnyde grasperke en taai, soet waatlemoen  en natuurlik ons somer-boemelaars!

Thursday, 29 March 2012

Regterbreine en model-robotjies

Wanneer jou kinders klein is, moet hulle mos al wat ‘n aktiwiteit doen vir hulle ontwikkeling. Een of ander musiekinstrument vir as hulle musikale aanleg het, ‘n balsport vir koördinasie, gimnastiek, ballet of dans vir ‘n mooi fier houding en so gaan dit aan. Die arme bloedjies, wanneer kry hul tyd vir tv kyk? :)
Wel, so met al die navorsing om jou kind in ‘n heelmens te ontwikkel en om begrip te kry vir elke bloedjie, het die ma mos toe op die linker-en regterbreinprofiele vasgehaak. Toetse gedoen, resultate gekry, en ek moet erken tot nou dat hulle tieners is, baat dit my nog steeds.

Groot was my skok egter destyds toe ek besef my hele huisgesin is regterbrein en die ma is die enigste linkerbreinsiel. 
Ek was omtrent jammer vir myself! 
Die ma wil vroeg in die week alles beplan hê vir die week, watter maatjies kom die naweek, sodat sy vroegtydig die maaltye en slaapgeriewe kan beplan. 
En bewaar jou siel as haar planne deurmekaar gegooi word! Haar hele wese word geskud en die stres van planne verander neem sy tol op die hele huis. 
Ek kan net nie ‘cope’ met soveel veranderinge daagliks nie!

Regterbreintjies leer mos uit ervaring.  “My kind, trek aan jou sandale die dorings gaan jou steek op die gras”, en daar hardloop sussie kaalvoet oor die gras – “Eina, eina! Mamma! Kom help my! Daar is dorings in my voete!” “Ek het jou dan gesê!” Sussie trek in vervolg haar skoene aan.  
“Mishka, jy moet versigtig wees in die stalle, ‘n perd kan skop.” 
Die stalle bel my dringend. Mishka is geskop in die stalle. Jaag hospitaal toe, darem nie te veel skade nie. 
Mishka is deesdae baie meer versigtig.
 
“Mamma, kan ek na ‘n partytjie toe gaan?”
“Is daar drank? 
“Nee, Ma.
“Is die ouers daar?”
”Ja Ma.”
“ASSEBLIEF MA! Moet my nie so embarrass nie, moet ASSEBLIEF nie die ouers bel nie, ek sal vir ma ‘n foto stuur!.”
“Kan ek oorslaap Ma?”
“Is daar seuns?”
“Nee, my kind jy kan beslis nie oorslaap as daar seuns is nie.”
‘n Klein oorloggie tussen vertroue en mag en grootword ontstaan tussen die kliniese linkerbrein en die emosionele regterbrein. 
Ons kom ooreen met groot opstand tot half 12 die aand. Ek laai my kind af met ‘n ongerustheid in my hart.
Ek stop ewe gedweë half 12 voor die hek. My kind kom verlig aangestap.
“Mamma, ek moet iets vir jou sê! Toe ek daar aankom het almal drank in die hand. Ek pace myself toe maar met drie biere deur die aand! 
En die gevryery! Die ouers het gaan slaap. 
Mamma, baie baie dankie dat jy my kom haal het!” 
En die regterbrein het natuurlik weer alles uitprobeer!
“Mam, as ek jou weer push om ja te sê, MOET jy nee sê. Ek gaan kwaad word, maar jy MOET nee sê.” 

En die ma glimlag in haar hart.

En so word my emosionele regterbrein kind wat haar in allerhande situasies bevind, oortuig om saam met haar maatjie in te skryf vir Mnr en Mej Ovie, Overkruin se “beauty pageant”.
Onderhoude word een aand gehou vir al die hordes wat ingeskryf het. 
Marike kom die volgende dag houtgerus by die skool aan…
“Baie geluk Marike, jy is in die finaal!”
“Marike, weet jy net twee graad 11’s is gekies?!”
Die hele graad 11 groep ondersteun Marike, Marix se moed sak in haar skoene. Waarin het haar regterbrein haar nou weer in begewe? Sy het dit dan net gedoen omdat haar maatjie wou. Sy is nie lus vir sulke stories nie! Sy kan nie haar graad 11 maats in die steek laat nie, sy besluit maar om deur te druk. Intussen moet al die finaliste nog ‘n spul geld ook insamel. Seker vir hulle foto’s.

“Mamma, ek gaan NIE met hoë hakke op daardie verhoog loop NIE! Daai Willie kan vergeet! Hy is nie eers ‘n onderwyser nie!
Mamma, Willie sê hy raak nie aan my vir grimmering voor ek my wenkbroue gewax het nie!”

Marike gaan pas geborgde rokke. Dit opsigself ‘n uitdaging. Marike is klein, kort en fris. Marike kom die ene glimlaggies uit. 
“Mam, die tannie sê ek kan klokkies om my voete bind, en mooi linte, ek moet net my tone mooi maak. Sy sê ek is haar warrelwind- kind. 
Mamma, ek gaan my hare so krullerig maak, ek wil nie soos ‘n modepoppie lyk nie.” 
En die linkerbrein ma bespreek vroegtydig hare, naels en ‘n wax.

Die tieners oefen hulle kedikkies. “Mamma, hierdie is nie vir my nie. Dit is so plastic. Die meisies is so dun en maer.”

“Ai, mamma, ek moet nog my skoolwerk ook inpas.” Die druk neem toe tussen mej ovie oefen, ekstraklasse en werk inhaal.

Een middag laat bel Marike my,  in ‘n totale toestand. 
Sy kry nie asem nie. 
Wille het ‘n tantrum gegooi. Hy het op haar geskreeu. Hy het gesê as sy nie hoë hakskoene aantrek nie, moet sy onttrek. 
Die regterbreinkind het natuurlik vir hom ‘n toffie gegooi.
Marix vreeslik ontsteld.
Willie wil nog met die ma oor die foon praat, toe staan sy voor hom.
“Wat se belaglikheid is dit die? 
Sy penaliseer haar mos self as sy oor die platform huppel.” 

Willie staan vas, die Ma raak ongeskik, Marike hiperventileer.

Na drama, moet Ma huistoe jaag om haar hoë hakskoene te leen vir Marix. My kind se hoogste skoene in haar kas is haar skoolskoene.
Die volgende middag  hardloop ons die Kolonnade plat in ‘n driekwartuur (al wat ons het na oefening en ekstra klasse en werk) om mooi fyn hoë hak–sandaaltjies te kry vir ‘n nommer 3 vet voetjie.
Nêrens.
Die volgende dag in middagete soek ek verder skoene. Ek sien ‘n skoen, neem dit af, stuur foto vir Marike, en kry die gewone antwoord. “So NIE!!”
Tyd raak min, arme Ouma is ons laaste uitweg. 
Ouma en Marike kry skoene. 
Uiteindelik! Wat ‘n verligting. 
Marike en Mishka loop beurtelings op die ‘high polfies’ die hele aand rond. Ewe ‘grant’.
Marike oefen by die huis haar dansie met die skoene. Val haar amper kepletter.
Ou Willie is darem tevrede.
“Mamma, die skoene val uit.” 
Die ma wat naaldwerk haat, probeer die bandjies korter maak. 
Chaos. 
Skoene word laat die aand na Ouma geneem, Ouma vat skoene om reggemaak te word. “Mamma, die skoene druk my nou vreeslik!” 
“Tough cookies sussie, jy moet maar uithou, ek is wraggies klaar gesukkel met die skoene!”

Hulle laaste oefening is Maandag van 2 tot 9 die aand. Marike moet gaan vir ekstra klas, en naels en tog die wilde wenkbroue.
Ou Willie kry die piep!

Marike bel erg benoud.
“Mamma, Willie sê as ek nie binne 5 minute daar is nie, onttrek hy my!”
“Nou wat de dinges!!
Hy het dan gesê jy moet jou wenkbroue wax!”

Die ma erg vies.

Sulke drama is mos nie nodig nie? Hulle loop mos net op en af op ‘n ‘ramp’? Die ma probeer Willie in die hande kry, hy skree in agtergrond, hy gaan beslis nie nou met my praat nie, ek moet die onderwysers bel.
Die ma baie erg  vies.
‘n Proffessionele, volwasse man tree mos nie op soos ‘n emosionele opstandige tiener nie?! Gelukkig het sy redelik ondervinding met regterbrein emosionele tieners. Met ‘n groot gesukkel kry die ma die onderwyseres in die hande. 
Drama word uitgesorteer. 
Ou Willie het gestrip want seuns het gaan rugby oefen, en meisies was nie daar nie en sy ou show gaan ‘n flop wees!

Marix kom doodmoeg terug in 'n breuk. “Mamma, Willie sê ons moet almal ons hare straight.” 
Tot die linkerbrein ma is moeg vir die ou wat almal in modelrobotjies wil verander. 
Wat van enige kreatiwiteit? Ek en Marike is gedaan gestoei.
Sal maar vanmiddag die hare gaan straight en grimmeer.
“Mamma, Willie sê ek moet half 4 daar wees.” “Jou grimmering is tot kwart voor 4.” “Mamma, ek sien nie weer kans vir ‘n geskreuery nie!”
Die ma bel weer die onderwyser. Dit is reg, Marix kan 4 uur daar wees.

Marike stel haar grimmering self uit na half 6. 
Die konsultant bel my en sê sy gaan nie half 6 maak nie. 
Die ma is OP! 
Waar de duiwel kry ek nou iemand wat haar op sulke kort kennisgewing kan grimmeer?!!
Ek bel oral rond, smeek, uiteindelik kry ek iemand wat haar 6 uur kan help. (7 uur begin Willie se show). 
Marix bel my half 6 ewe vrolik. “Mamma, hulle het my sommer klaar gegrimmeer!” 
Ek is verlig en kwaad gelyk – nou moet ek ALWEER op die nippertjie kanselleer. 
Gaan hierdie nooit ophou nie? Die ma se linkerbrein is voos, opgebrand van al die veranderinge.

En so breek die groot aand toe aan… Uiteindelik.

Willie se ‘show’ is  toe nie ‘n flop nie.
Marix lyk te pragtig, die ma kry sommer ‘n knop in die keel. 


Marix kom stralend en gedaan na die tyd by haar ma en gee vir haar ‘n lekker druk en soen op haar wang. 
Ai, my kind, ons is hier deur. 
Mamma kan nie glò jy het al hierdie druk so goed hanteer nie.

“Mam, dankie vir alles. Ek is lief vir jou”
En die ma se geseizde linkerbrein maak die hart weer sag.


Friday, 27 January 2012

Ag wat, kap nog 'n boom af!

‘n Baba word gebore, die wonder van ‘n perfekte klein mensie word aanskou.
‘n  Dun boompie met ‘n buigbare stammetjie word geplant.
Die baba word gevoed, gedoek en gedummy. Die boompie kry water en kunsmis.
Albei groei – stadig maar seker.

Baba kry tande, begin kruip, loop en hardloop.
Boompie kry nuwe takkies en blaartjies.  Sy stammetjie word effens dikker.
Peuter spring van die bed af, kap haar kop oop.
Net bloed waar jy kyk.
Hospitaal toe. Steke.
‘n Storm kom op, boompie word gewaai, hy buig en kreun tot op die grond.
Boompie word versterk met ‘n paal. Peuter kry so af en toe ‘n warm boud.
Albei groei – met horte en storte.

Kleuter word 5.  Kinders speel “ring-a-ring-a rosie” rondom  boompie, hy koes om regop te bly,  sy stammetjie nog so dun.

Ons gaan graad 1 toe, ons groei te vinnig.
Boompie wag geduldig op reën en dalk ‘n bietjie kunsmis om te groei.
Boompie groei stadig.
Kind begin eksamen skryf, voëltjies begin in boompie sit.  Boompie kreun van gewig. Sy takkies nog te dun. Kind kreun, die huiswerk is sooo baie.

Tiener lê onder die jong boom en droom op na die sterre. ‘n Wêreld vol ideale lê voor.
“I love you” word op boompie uitgekrap.
Boom aanvaar dit  gelate. Ons stap immers al ‘n paadjie saam.
Tiener kom by die huis aan, in trane. Hart is gebreek in duisend stukkies. Boom kry ‘n druk en gooi sy effense koelte met liefde.

Tiener word student.
Boom blom die eerste keer. Boom is ‘n godgegewe seëning. Boom bring soveel vreugde. Student jol en kerjakker.  Voëls sing en speel in Boom.

Student trou. Sit huis op. Begin ‘n loopbaan.
‘n Houtkapper maak nes in Boom. Boom voel gelukkig. 25 jaar later het iemand ‘n tuiste in hom gevind. Houtkapper kry 'n maatjie.
Die jong vrou word swanger en kry die mooiste baba.
Houtkapper lê eiertjies en kry twee wilde, honger kuikens. Ma- en Pa-houtkapper vlieg en fladder om kleintjies groot te kry.
Boom kyk in liefde neer.
Kleuter speel rustig onder die boom. Boom gooi die sagste koelte.
Hartsgesprekke en omgee-kuiers onder die boom.

Houtkapper lê weer eiers in Boom se hart.
Slang vreet alles op.
Houtkappers stukkend.
Mamma verloor ‘n baba.  Harte is rou en stukkend.
Boom bloei.

Boom se stam word dikker, takke sterkter en harder. 
Peuters, kleuters en kinders speel en stamp tone onder die boom.
Boom is gelukkig en tevrede. Daar is soveel seëninge in sy 30 jaar.

Boom is 35! Hy voel sterk en gesond. Nog baie groei en skadu vir almal.
Die weer kom op. Vir die soveelste keer. Gaan Boom die keer kan staande bly? Sy wortels anker diep in die grond.
Ma en Pa baklei dag en nag.
Donderweer blits en donder.
Die weerlig slaan boom se sterk tak mors af.
Ma en Pa skei.
Boom is vermink.
Kinders voel wortelloos, stukkend.
Ma, Pa en kinders se harte is vol snye.
Boom bid vir reën en genesing. Stadig begin boom herstel.
Sy letsel na jare wys minder.
Ma, Pa en kinders se litteken-harte word sagter.

Boom kan weer skewe koelte gooi.
Hartsgesprekke en omgee begin weer onder die boom.
Boom is 40! Boom geniet die voëltjies. Houtkappers is aan die werskaf.
Boom gee vrede-koelte. Boom se stam is dik.
Het al baie wind en weer trotseer.
Boom sien kans vir nog baie winters.

Vrou, die boom se blare verstop die geute.
Die voëls mors op my kar.
Ek is moeg om blare op te vee op die plaveisel!
Die boom is dan so pragtig. Veral as hy blom!
Wie tel die blomme op??! My kind is allergies vir bye!

Die petrolsaag raas. Die boom se takke word een vir een afgeruk.
Boom huil.
Net boom se sterk stam bly oor.
40 jaar flits verby. 
Groot, breë “I love you” letters word afgepynig.
Boom snik, hy het nog soveel om te bied.
Petrolsaag hou aan gil.
‘n Groot diep hartseer pluk aan Boom se bloeiende hart.

Boom lê stukkend in ‘n paadjie.
Hy word elke dag vertrap op sy stam-stepping stones. 
Voëltjies, houtkappers, babas, tieners, almal se wortels is uitgeruk.

Boom is weg.
40 jaar verdwyn in ‘n oogwink. 
Waar gaan ek droom?
‘n Kaal oop warm gat bly agter.

Wat maak dit saak?
My geute is skoon..
Geen blare om op te vee...
Ha ha! Die voëls is weg!
My kar moet nog steeds gewas word..

Wat maak dit nou eintlik saak?
Nog 'n boom is gemoor vir my gemak..

Monday, 17 October 2011

Klinkende simbale

God kyk af op die aarde en sien hoe die dominee preek dat die spoeg so spat. Die gemeente-lede sit en krimp van skuldgevoelens en minderwaardigheid.

En ek wonder wat dink God?
Die een groep stry of apartheid in die kerk toegelaat moet word terwyl een van my kinders wens dat apartheid deel was van haar lewe. Sy sou ‘n meer regverdige kans gekry het in haar studies, op die sportveld en in skoon badkamers. In dieselfde asem besef sy ook die onregverdigheid daarvan.
Waarom moet sy die gevolge dra?! “Die kinders sal boet vir die sondes van hulle voorvaders!!” preek die dominee.

Die ander kerkgroep wonder hoe higiënies is ‘n groot beker tydens nagmaal. Jy mag nie dans op jou troue nie, sê die dopper dominee en die jolige, vrolike kind se hart kom in opstand. Die een groep klap hande en jubel en juig, terwyl die pastoor in sy blink nuwe motor ry na sy spoghuis in Waterkloof.
Die ander groep veroordeel die engele en ‘saints’ van nog ‘n kerk. Ander gooi jou in die swembad vir díe groot doop, die self-vermoorde mag nie in die kerk begrawe word nie want ons sê God veroordeel selfmoord.
Ons sing in swymels, spreek in tale en sweep mekaar op. Waar is hulle as jy ‘n krisis het?
Die een spul hou kerk op ‘n Saterdag, die ander glo nie in Christus nie. Elkeen veroordeel na die hel as jy nie glo wat ons glo nie.
Wie is jy nou eintlik? Ryk of arm. Maer of vet. Graad of nie. Slim of dom. Moslem, Hindu, Katoliek, Happy Bappy, Christen met ‘n swart pak, Christen met ‘n jean.
Jy is hier vir ‘n rede.

Wat is die kerk se rede?

En ek dink God kyk af en skud sy kop in ongeloof vir hierdie wêreld se sirkus, en sien hoe mensies skarrel vir hulle eie mishopies met sy spesifieke reëls en regulasies.
Waarvoor?
Liefde, omgee of rykdom, jeug, sukses of Mag?

Waar is die liefde, my kinders?
Waarom volg jy nie jou lewensdoel waarvoor Ek jou hier op aarde geplaas het nie?

En die dominee hieronder bulder: “Sonder liefde is ons soos klinkende simbale”.. en ek dink God skud maar net Sy kop in ongeloof...

Wednesday, 31 August 2011

Wie is baas?


Een van die misrekende faktore as jy saamsmelt as twee gesinne is al die troeteldiere. 
Kyk, elke familie het mos ‘n spesiale plek en vreemde lojaliteit teenoor sy huisdiere, of hulle nou buite of binne die huis slaap.
So het ons toe, na ‘n paar verliese, baie trane en baie ‘gevoelens’, op die ou end met drie honde gesit. Twee worse, Coco en Pikkie en en een yorkie (half kat, half hond), Tiger. My diere kon in die huis kom, Neels se honde mag nie ‘n voet in die huis sit nie. 
Op hierdie stadium bly hulle buite en as die baas nie daar is nie, kry hulle ‘n kuiertjie in die huis. Die worse hardloop dan reguit kombuis toe en stofsuig al wat ‘n krummeltjie is, jy kan mos ‘n wors enige iets leer met kos! Tiger hardloop teen ‘n stink spoed reguit uit by enige deur, strate toe. Dit is vir hom hemels om te hardloop dat die hare so waai!

Ek wil mos nog vandat ek kan onthou ‘n sjokolade-bruin worsie hê, en so wraggies daar sien ek ‘n baba in Kolonnade se pet shop. Sy is die oulikste dingetjie denkbaar. Ag, en ek is tog so broeis!  Ek vryf en cuddle en staal myself. Ons kan nie nog ‘n hond kry nie, die erf is te klein.
Ek vertel vir Mish, sy smelt.
Ek vertel vir Neels, hy word staal.
Daardie nag droom ek van worsie.. Shame. Dis so erg om hulle so in ‘n ou hokkie te sien..
Die volgende dag loop ek en Mish weer in die Kolonnade. My droom was ‘n teken.. Ek gaan wys vir Mish – het jy al ‘n kind petshop toe gevat en getwyfel oor ‘n ja of ‘n nee? Hulle oorrompel jou mos daar en dan.
Ek bel vir Neels.  Hy stip al die gevolge vir my uit, maar sy is dan so cute!
Ons kom by die huis aan met Choci –opregte bruin sjokolade miniatuur worsie met haar bruin ogies wat enige man week maak. Hy wou nog kwaad wees, toe vermurwe sy hart ook. So is Choci elke aand op een van ons se skote voor die tv bederf, ons het mos nie meer ‘n baba in die huis nie. Choci en Marike het heerlik eksamen geskryf en sy was ‘n ware steunpilaar vir Marike deur moeilike emosionele tye. Ek moet sê, soos Choci groter geword het, het ons besef, die erf  IS te klein vir 4 honde..

Ek kry ‘n oproep van Neels by die werk. Clarissa het ‘n kat by die huis aangebring. “Jy weet dan ek is hiper-allergies vir ‘n kat!!  Nie een van ons ken katte nie!”
Die juffrou het baba-katjies skool toe gebring en “ag pappa, hulle is so cute!”.  Ek is getroef kaart- ek kan nie te veel sê nie, ek het vir Choci by die huis aangebring...
Skye bring haar eerste nag in die waskamer deur. Ons sit haar water, sandbak en slaapmandjie vir haar neer.  En daar klim Skye in haar sandbak, grou ‘n gaatjie doen haar ding en maak alles netjies toe. Ek en Neels bewonder die verskynsel. Geen pottie-training! Mishka kom in die waskamer in, sy skud net haar kop. Weird... grootmense wat so in verwondering staan en kyk hoe ‘n kat sy dinges doen.
So raak Skye deel van ons lewe en so word ons almal genees van kat-allergië. Skye neem vir Neels aan as baas. Terwyl hy by die huis werk, lê sy langs hom op haar stoel of op sy skoot. As hy weg is en kom terug dan gesels sy te lekker met hom. Skye word in die huis en deur oop vensters groot. Die honde blaf aggressief agter toe deure. Ons laat hulle een vir een kennis maak. Coco het nie ‘n saak nie, sy hardloop reguit kombuis toe vir kos. Tiger gee nie eers ‘n kyk nie, hy het net een doel voor oë, en dis die strate!
Choci is ‘n ander storie. Of hulle wil speel en of sy kwaad is omdat sy nie meer die ereplek op ons skoot kry in die aande nie, sal ons nie weet nie. Skye het haar ‘n paar warm klappe gegee, maar die vyandigheid bly behoue. Choci se missie in die huis is om Skye te jaag. Skye spring op ‘n bank en maak Choci mal. So is dit elke keer as Choci kan inglip in die huis. Skye moet hardloop tot sy ‘n hoogte bereik.

Skye word groot en hou lekker kapperjolle in die nag. “Neels, jy moet vir Skye gaan regmaak”, “Sy is nog te klein, sy is maar eers so 5 maande”. “Sies tog”
Ek hou van babas... Klein ou katjies... Ag shame...
En so kom Skye een môre erg verniel terug van haar nagtelike plesiere.
‘n Paar weke later.
“Die kat is mos swanger!” “Kyk haar maag!”
 Nou kyk, ek het baie ondervinding met babaworsies, maar katte – dis vreemd. Ons wag in afwagting vir die babas. Kan nie die tekens lees nie. Neels gebruik Skye so af en toe om ‘n morele lesse voor die tv, vir die hormoonbelaaide tieners in te werk. “Sien jy nou wat gebeur as jy so laat in die nag jol!” “Skye, jy is nog self ‘n baba, nou moet jy al kinders kry”, “Shame, nou kan jy nie meer eers uitgaan in die aande nie..”. (Hoop maar dit het iewers vasgeslaan in ‘n tienerbrein..)

En so wag ons die weke, aande af vir Skye om te kraam. En toe Maandag, wil sy net opgetel en gevryf word, lê tot in  ‘Ouma’ (ekke) se  arms en word gevryf soos ‘n baba. Dinsdag-oggend half 6 bel ‘n moeë Marike. “Mamma, Skye het gekraam. 3 babas. In my  tas, onder my bed, vol teddies.” Ons hardloop af. “Mamma, moenie skrik nie, hulle is nie so mooi soos babaworsies nie..” Himmel, maar ek moet sê klein katjies maak seker later op vir cute-geit, want pasgebore katjies is maar ‘n grillerige gedoente. Hulle is nog nie eers 24 uur nie en hulle klouter al op teen hulle ma met hul lang armpies.

Skye is sò bederf, Skye wil nie alleen wees nie. Loop heeldag op en af tussen ons en haar babas.
In twee geskeur.
Dit kos ons toe maar om beurte te maak om by Skye te sit by haar babas. Dit is al wanneer sy stil is. In die aande slaap die spulletjie in Clarissa se kamer.

En wraggies! So glip die honde mos vanoggend in by die huis. Ons is almal in paniek!! Skye se babas! Chaos!  Skye blaas haar op soos ‘n leeu-wyfie. Coco pyl reguit af op die kombuis, sien nie eers vir Skye raak nie, maar Choci is ‘n ander storie!
Choci glip verby na die kinders se kamers. Neels met ‘n spoed agterna. Ek en Mishka sit nog aan ontbyttafel, nog te geskok in die chaos om enige iets te doen. Die volgende oomblik tjank Choci of sy gaan doodgaan – en dit hou net nie op nie!
Ek en Mishka ys.
Het sy ‘n katjie beet gekry en Neels slaan haar?  
Ek te bang om op te staan.
Die volgende oomblik kom Choci aangepyl teen ‘n stink spoed, mik reguit om so vinning as moontlik by die deur uit te kom! Skye op haar hakke!
Die kat jaag die hond!
Die hond is angsbevange. Haar hele gesiggie is vol bloedsproete, soos Skye haar aangeval het!
Choci stert tussen die bene uit by die huis. Almal verlig, hond inkluis.
Skye loop soos ‘n leeuwyfie rond..

Vandat ek die ‘Animal Telepathy” kursus by die bekende Jenny Shone gedoen het, sê die kinders vir my ons is maar almal ‘n bietjie weird..
Ek sê jou.
Katte jaag honde in ons huis... Beware..! 


Monday, 22 August 2011

Charity in South Africa


Elke oggend durf ek my 33km roete op die N1 aan na my  werk. Vakansie- en eksamentye neem dit my 25 minute, ander dae tussen 50 tot 90 minute. Dis dan wanneer ek dit maar my dinktyd maak.
Dit help tog nie om te stres nie, as jy in die verkeer sit, sit jy.

Vanoggend dink ek aan tiendes. Daar word altyd tog so klem gelê om jou tiende te gee...

Ek stop by die robot en die 50-jarige witman wat een of ander senuweesiekte het (ek kan sien hoe sukkel hy om te loop, hoe moeiliker dit raak soos die dae verbygaan, veral nou in die winter), verkoop sy vars gebakte R10 fudge. Hy probeer darem iets doen, en ek koop maar vir die soveelste keer die verskriklike soet fudge wat die kinders nie eers wil eet nie.
Nog twee irriteer my met koerante en For Sale pamflette wat voor my oë ingedruk word en voor my neus gewapper word.
By nog ‘n robot staan die ongeskikte ou vrou en bedel vir geld. Hul lyk mos so skuldig, wil mens nie eintlik in die oë kyk nie, maar bewaar jou as jy nie iets gee nie, dan word jy sommer gevloek!

Deur die tolhek – ons in die Noorde borg mos die N1 tot in Botswana, geen alternatiewe roetes vir ons nie. Geen Gautreinbus waar ons bly nie! Taxis ry verniet, ons volg die wet van Transvaal!

Vanmiddag ry ek huis toe.
By Menlyn se robot is die die nuutste, ‘n wit –ge-shoe-shine-de swart seun wat dansies uitvoer om geld te kry. Hy lyk so tog snaaks, die spierwitte arms, bene, tande en gesig met kroesies en lippe – dat ek tog maar weer ietsie gee- hy het darem ‘n glimlag op my gesig gesit!
Verder aan sit ‘n onwettige immigrant met ‘n baba by die robot. Ek word sommer onmiddelik kwaad. Hoe kan jy jou kind langs die straat grootmaak?! Die arme baba toegedraai in die warm son gepêpa op sy ma se rug. Die hele liewe dag!
Seker sopnat van die sweet. Ontwatering gaan deur my gedagtes. Wat maak die ma as sy regtig nie kos het nie? Gebruik sy die baba vir jammerte? Ek draai net daar die ruit af en dreig die vrou met die Polisie.
Die tweestryd om te gee of om nie te gee stry alweer binne my.  Ek word sommer weer vies vir die regering dat hulle nie ordentlike grens-beheer toepas nie.  
Ons bly in Afrika – geen grense.

En hier is ons twee blindes – iemand is mos deesdae nodig om die blinde met die vreeslike groot donkerbril te lei en te ‘help’ om ‘n blikkie te skud. Ek glimlag maar net, gister was dit dan sy ‘helper’ wat blind was!

Ek stop by Zambesi se robot en wens onmiddelik dat ek swart belt in karate het! Hierdie outjies wat met hulle half vuil waterbotteltjies loop en dan ewe skielik op jou voorruit water spuit jaag my kwik op verby kookpunt – eerder tot byna moord!
Hulle spuit mos net, kyk nie of jou ruit skoon is of nie! Menige fris boer het al uitgeklim en een aan die bors gegryp! My kinders druk al hul ore toe as hulle nader kom, ek skree so dat geen ou dit naby my waag nie! Hul bring regtig die slegste uit in elke mens – wat nog van ‘n donasie gee.
Ander sit weer rustig in die kar, laat hulle spuit en was, en ry dan weg en los ‘n erg kwaai en vloekende ruitwasser gelate agter.
Deesdae druk ek ‘n rubberslang by die venster uit  as hulle nader kom (ek kry te skaam as ek so te kere gaan). Ek kry tog so ‘n lekker gevoel van genoegdoening – het julle!

Ag tog, en moenie die ouens vergeet wat donkerbrille verkoop nie. Ek sit met my oogarts-goedgekeurde donkerbril in die kar, maar hy sal jou nog oortuig sy bril het jy nodig! Of wat van ‘n memory stick of ‘n ‘pirate’ kar charger? As jy geswig het oor die goeie prys, kom by die huis en sien hierdie ding werk soos in glad nie, het hy natuurlik môre soos ‘n groot speld verdwyn!

Ek stop by Fruit en Veg om groente te koop. Die karwag groet my oorvriendelik en belowe hy sal my kar mooi oppas. Ek stoot bukkend my swaargelaaide trollie tot by my kar – karwag het soos mis voor die son verdwyn. Nadat ek AL die aartappels, lemoene, appels, waatlemoene en bokse uit die trollie in my kar gelaai het, verskyn hy ewe vriendelik uit die mis met ‘n sigaret in sy hand.  Sal ek hom iets gee, sal ek nie? Ek het al vir myself ‘n kriteria opgestel waarvolgens ek vir hulle geld gee. Hoe lank was ek geparkeer, hoeveel motors word by daardie sentrum gesteel, was die motorwag daar toe ek uitgeklim het, help hy my met die trollie, help hy my pakkies inpak, te vriendelik?

By die poskantoor is dit dieselfde storie. Moet jy nou wraggies geld gee vir die motorwag terwyl jy jou pos uithaal en self jou motor kan dophou?!
Neels bel, daar is nie melk en brood by die huis nie. Ek stop by Spar – nog ‘n irriterende motorwag staan soos Superman reg om na my kar te kyk. Ken Superman karate? Ek is al groen belt!!

Uiteindelik by die huis! “Ma.. ons moet môre blikkieskos skooltoe vat, en o ja! Komberse as ons het. Shame Ma, daar is kinders wat nie eers kos in hulle huise het nie”. “Kyk tog maar daar in die kas, ek dink daar is nog ‘n paar ekstra blikkies baked beans en sweet corn.”

Saterdae is die ergste.
Die asblik lê uitgestrooi – nee, nie deur honde nie, maar deur boemelaars wat die cheek het om nie eers die gemors wat hulle uitkrap weet terug in die asblik te gooi nie!

“BeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeSêm. BeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeSêm” begin dit vroeg oggend.
Hoeveel van hierdie grasbesems moet ons nòg koop?!

Ons ‘gereelde’ boemelaar lui die klokkie – hy kom haal sy weeklikse donasie. Die donasie het verminder toe hy eendag poepdronk daar aangekom het en die klokkie aanhoudend gelui het tot iemand uiteindelik vies uitgekom het. Dikvellig, sê ek jou. Dikvellig.

Ek ry gou Pick en Pay toe, langs die pad kry ek hierdie nuwe tendens, staan met plastieksakke langs die pad om jou gemors uit die kar te neem, natuurlik teen ‘n fooitjie. Of hierdie wat nou so op hulle knieë kniel in DIE MIDDEL VAN DIE PAD en met bak handjies iets uit jou probeer smeek. Wat genoeg is, is genoeg!

Die rugbyseuns hou ‘n blikskud vir hul toer – ek raak sommer onmiddelik kwaad. Kan hul ouers nie sien hoeveel bedelaars is daar alreeds langs die pad nie! Jy leer nie jou kind bedel nie, hoekom kan hulle nie karre was vir ‘n fooitjie nie? Vandag se tieners...
Iewers langs ‘n stopstraat is ‘n dronk ou vasgeketting in sy onderbroek.  Sy grootmeneer-pêlle staan eenkant langs die pad met ‘n bierblik in die hand en geniet sy petaljie terdeë. Hy trou volgende week, honeymoon is duur..

Terug by die huis. Angeline, ons huiswerker se seun het geld nodig. Sy het niks nie, kan ons vir haar leen. Sy doen tog so baie vir ons, ons gee maar. Freddie die tuinier is nog net ‘n asem. Tussen sy styfgespande dagga oë en dronk asem is dit ‘n wonderwerk as hy die gras gesny het en die blare opgevee het. Sy rug is te seer vir enige swaar werk. Freddie sorg vir sy kinders en hoeveel vroue by die huis. Ons bly maar geduldig met Freddie. Waar sal hy tog nou weer werk kry?

Anton, Neels se hulp op Saterdae se kind is siek. Hospitaal toe, medisyne, klere, geld  as die ‘piece jobs’ te min is. Elke Saterdag gaan Anton met ‘n pak kos en lekkernye huistoe. Angeline het haar die reg toege-eien om te besluit wat word nie geëet nie en wat is oud in die huis. Dit word alles vir Anton in die yskas gebêre. Elke Saterdag is dit soos Krismis vir Anton. Ek het al telkemale gewonder wat het van dit geword?  Mmmm, seker na  Anton toe...

Jou huurder bel – dit gaan nie so goed met sy besigheid nie, kan hy maar so teen die 10’e sy huur betaal?
Jou x bel – hy het nie geld nie, sal nie hierdie maand kan onderhoud betaal nie. Wie moet vir die kinders sorg?
Jou man se x bel – haar ma het kanker – ons maak kos en stuur oor.

Die klokkie lui... “MOENIE ANTWOORD NIE!!!!”

“Gee jou tiende Broeder en Suster, gee jou tiende!!”, bulder die dominee.