Geskryf: 23 Julie 2020
Pa se eerste en laaste is selde sy eerste besluit of sy laaste besluit – tussendeur is daar soveel plan-veranderinge dat as die finale, finale besluit geneem is, jy nie kan onthou wat was eerste besluit nie en jy hoop net die finale finale besluit is die laaste besluit.
Jag is in Pa se DNA gegrein. Vandat ek kan onthou, onthou ek die reuk van jag en bok aan Pa as hy terugkom uit die jagveld, doerie tyd al van Richmond se tyd af.
Later jare het dit tradisie geword dat Pa en sy broers en seuns en uitverkose vriende elke jaar in Namibië gaan jag.
Die boyfriends word eers baie kieskeurig uitgekyk en miskien dan gevra. Dit was ‘n uitverkore groepie wat net sekere besonderse mense toegelaat het in hul binnekring. Wat daar op die jagveld gebeur het, bly ook maar so in die groep, al wat ek kon optel is dat soms sommige mense nie weer genooi is nie.
Dit wat ek kan onthou, is die moeë manne wat uit die veld kom wat na jag en stof en bok ruik, en bokke agter op die bakkie.
Dan die groot geslag – bokke word opgehang in die garage, vleis word in blokkies gesny, gemaal, wors gestop en biltong gesny. As jy “bevorder” word, kan jy ook biltong sny en wors stop, anders kan jy net blokkies sny. Kort-kort hardloop een in huis toe vir ‘n pleister, want daar word altyd vingers raakgesny met die skerp jagmesse. As daar ‘n stukkie wors is, dan word een kombuis toe gestuur om ‘n stukkie gaar te maak, sodat ons kan proe. Almal staan dan daar en proe met lekker vet om die mond en eet met genoegdoening aan ons harde werk.
Elke jaar teen Maart begin Pa die jagkriewels kry. Net eers so ‘n rusteloosheid en moontlike datums en hoe nader dit aan die winter kom, hoe rusteloser en meer doelgerig.
So is dit elke jaar, Pa reël die jag. Namibië het te ver, lank en duur geword. Die ou manne het ook al te oud begin word, toe skuif die jag na Gariepdam - Pa en Ma se halfpad-oorslaapplek elke keer af Boggoms toe.
Daar was lekker akkomodasie, so die vrouens en kinders het saamgegaan.
So ‘n mini familiebyeenkomsie.
Al wat ek kan sê is dat dit flippen koud raak daar langs die Oranjerivier. Ek het my na eenkeer se jag, besluit ek gaan nie weer nie, die koue kruip in binne jou geraamte in. Marike het Oupa se geen geërf en as die woord ‘jag’ genoem word, is sy reg!
Twee jaar gelede het Pa en Oom Dries gaan afskeid neem op die jagveld by die Oranjerivier. ‘n Laaste jag vir oom Dries wat vir Pa nog steeds trane in die oë bring.
Verlede jaar was dit Callie en vriende.
Pa was te siek.
Elke jaar kry ons darem so ‘n ou bokkie, al tel Pa dit dan nou op in Bloemfontein by Callie as hul terugkom van Boggoms af. So kry ons darem ‘n ou wildsvleisie elke jaar.
Hierdie jaar was dit ‘n heel ander storie. Pa reël al van Maart af by André van die Oranjerivier of ons ‘n bokkie kan kom jag.
Pa word siek, ons stel datums uit, bygesê, Covid is nou ook nie aan ons kant nie. Hoe skryf jy ‘n jagpermit vir Callie se 4-jarige dogtertjie?
Vleis kan die een dag oor die grens gebring word, die ander dag nie.
Almal is in verwarring.
Eerste is nie die laaste nie, so ons aanvaar maar die veranderinge gelate met ‘n gekners op ons tande.
Ons is regtig bekommerd oor Pa se gesondheid en besef hy het nie krag om tot by die Oranjerivier te ry nie.
Callie is geduldig met datums, Covid en hoop ook op beterskap. Braam sit met ‘n hartseer verlange en pynhart in Oostenryk. Covid voorkom dat hy saam met sy pa saam kan afskeid neem in die jagveld.
Ons harte is seer en angstig.
Die jag hou Pa nog aan die gang, as daar ‘n moeilike en moedelose dag is, dan motiveer ons met “Pa/Oupa – ons moet nog gaan jag!” – en dan kry ons weer ‘n flikkerinkie in die blou ogies.
Pa is nog vas van plan om te gaan jag, òns twyfel al meer en meer.
Hy volg egter dieselfde proses – Beer, my geliefde, moet ook eers sy geweer gaan “inskiet” saam met Pa. Beer slaag met vlieënde vaandels en kry die goedkeuring by Pa: ”Jy kan maar saam met my gaan jag”. J
Soms as Pa baie moedeloos en moeg raak, neem Beer hom om sy geweer in te skiet – “ander koeëls” of so iets..
Pa beland weer in die hospital (Covid-nes, soos hy sê), en die Oranjerivier-jag word weereens uitgestel.
Dit is net té ver.
Ons stel dit af, maar ons sal ‘n ander plan moet maak.
Uit al die negatiewe van Covid, het daar ook ‘n seëning gekom – alle vlugte van die buiteland is gekanselleer. Jagplase wat vir oorsese jagters geoormerk is, staan doodstil. Geen besigheid.
Ek kontak my vriendin in Ellisras – ja, hulle is hierdie jaar oop vir binnelandse jagters! 240km ipv 700km, die wild is duurder, maar soveel korter vir Pa om te ry.
Ons gaan jag!
Pa word weer opgeneem in die hospitaal.
Iewers lek bloed, ons is erg bekommerd – gaan hy die keer oorleef?
Pay kry nuwe bloed,
hy voel beter,
hy word ontslaan.
Hy word weer opgeneem,
hy kry weer bloed.
Kuvhima het net een naweek vir ons oop.
Pa is nog in die hospitaal.
Ons besluit toe ons gaan maar jag, al gaan Pa nie saam nie. Marike en Nien se jag-geen is te sterk, Beer se vinger is skoon kriewelrig van die gejeukery om ‘n sneller te trek.
Pa wil gaan, maar verstaan.
So val die jagreëlings toe op my. Goeie griet! Wat ‘n storie!
Jagpermitte – heen en weer, eers na jagters, dan na Kuvhima, dan terug en so gaan dit aan. Akkomodasie – moet ons komberse bring (ek kan nét nie meer koud kry nie), wat moet ons saambring, wat is daar, is daar koffie?
Spyskaarte en kos – die Greylings is mos feeders. Daar moet genoeg kos wees en wie wil nou nie braai in die bosveld nie?!
Vervoerreëlings – daar mag net drie in ‘n kar wees, Marike werk nog tot Vrydag, die een wil nie saam met daardie een ry nie, en so gaan dit aan..
Ek is flou!
Ek verstaan nou hoekom Pa in Maart al begin reël het aan hulle winterjagte!
Ek bel elke oggend vir Pa as hy in die hospitaal is – dit is baie eensaam so alleen in die Covid-nes. Hy verneem elke oggend hoe vorder die reëlings en ek lig hom breedvoerig in, dit neem sy gedagtes weg van die pyn en eensaamheid.
Pa begin plannetjies maak…
Donderdag-oggend lig hy my in, uit sy hospitaal bed uit, hy het die doktertjie omgepraat om hom Vrydag-oggend tussen agt en nege te ontslaan.
Hy gaan saam jag.
Die laaste besluit is toe nie die laaste nie..
My maag slaan bollemakiesie – ál my reëlings moet weer verander!
Oupa gaan saam, ry-reëlings verander, Marike se boyfriend, Werner, kan ook gelukkig nou saamgaan.
Die vervoerreëlings verander wéér!
Daar mag nog steeds net 3 mense in ‘n motor wees.
Ek moet nog permitte en verblyf reël.
Ek moet weer ‘n draai by Pick en Pay gaan maak.
Ai tog - Pa en sy planveranderinge. Die eenkant is ons hoopvol, aan die anderkant is ons maar benoud.
Ek bel Pa Vrydag-oggend so 8 uur in sy hospitaalbed. Hy sit al aangetrek in sy stoel en wag vir die doktertjie.
Hy het die vorige aand ‘n ysterdrup gekry. Hy noem so terloops vir my, hy het weer bloedaanvulling gekry – hy kan ontslaan word as die bloed ingeloop is. Dit neem ten minste 4 ure! Ek sug maar net.. as die jaggeen in jou bloed is, hou ‘n paar pinte bloed jou nie terug nie!
So kom ons toe Vrydag-aand in stukke en stukkies aan op die bosveldplaas.
Almal pootuit en gedaan. Pa is so gedaan, hy sê vir my hy moes eerder gebly het..
My hart sak in my skoene.
Ek praat moed in.
Werner moet help met die wassery en bad – Pa kan nie homself help nie.
Hy is te swak.
Hy het immers ‘n dag gelede uit die hospitaal gekom!
Saterdag-oggend is die helfte van die span uit saam met die PH (Professional Hunter) om te gaan jag. Hul reël om vir Pa later te kom haal en hom in ‘n skuiling by die dam te sit.
Pa weet nie daarvan nie.
Later die oggend vertel ek hom van die opset- hy hoef nie ver te loop nie, hulle sal hom met die bakkie aanry, hy gaan lekker sit.
Hy twyfel, hy wil nie ‘n las wees nie.
Hy dwaal weereens besluiteloos rond, later sien ek hom met sy hoed op sy kop. Hy het nog sy pajamas aan en pantoffels, maar die hoed is al op!
Nien gaan saam met hom – die PH help hom in die bakkie, hou sy rug vir ‘n trappie by die skuiling.
Hulle is so dierbaar!
Pa en Nien kom leë hande terug, maar die oë blink! Die buitelug het hom goed gedoen.
Beer en Nien skiet toe darem vir ons later ‘n koedoe en ‘n yslike blou wildebees.
Werner vat vir Ouma en ‘n baie gedaan Oupa terug huistoe, die res van ons kom die volgende dag. Ons engel, Werner, help weer met die was van Oupa en uitpak, en kom laat en moeg by sy huis aan.
Ons vertrek die volgende oggend.
Die bakkie ry met die wild, die seile wapper en kort voor lank soek ons klippe langs die pad om die seil toe te pak.
‘n Mens weet nooit hoe die polisie Covidreëls toe pas nie..
Uiteindelik kom ons met ‘n gejaag by die slaghuis aan – net voor toemaaktyd.
Nee, hulle vat nie bokke met velle nie – dit is gesondheidsreëls!
Wat nou gemaak?!
Beer reël twee manne wat die velle kan afslag – hulle is te swaar om te hang in die garage. Ons jaag na Blinkblaar toe, Pa kom staaaadig uitgestap met die messe.
“Ons moet eers die messe slyp” – hy haal sy slypsteen uit en slyp die messe.
Sy ogies blink weer.
Die volgende oggend vat Nien die bokke uiteindelik slaghuis toe.
En so kon ons darem vir Pa sy laaste jag reël, maar met Pa weet ons nooit nie, want Pa se eerste en laaste is selde sy laaste of eerste..
PS. Ek skryf hierdie stukkie nou klaar hier by die Oranjerivier, ‘n jaar later. Ons het toe weer kom jag, Pa is vanoggend uit om ‘n bok te gaan soek..
Laaste? Net Pa sal weet..