Monday, 29 March 2021

‘n Volmaan naweek in sonnige Suid Afrika

 

Vir Ma (want my ma probeer by bly met tegnologie! Super Ouma!):

WA – WhatsApp

PVA – Plan van Aksie

Dankie vir die heerlike appelkoosjam.
 

Dit is volmaan hierdie naweek, dalk kan ons nagapies in ons soetdoring sien..

Vrydag-oggend kry ons ‘n foto vanuit ons buurt se WA-groep  van ‘n steenbokkie wat hier in die strate rondwei. Ek besluit summier om lusern op my sypaadjie te plant – en kry ‘n warm gevoel om my hart.

Die WA-groep klingel benoud rondom twee-uur die middag – gewapende roof 8 huise van ons af in die straat. Die wag is vasgebind. Niemand (hierdie keer) het seergekry nie. Verlede naweek het ons 6 skote in die nag hoor knal.

Die vermoede is ‘n sindikaat (onwettige immigrante?)  wat ons buurt teiken, weekliks of twee word ‘n huis aangeval.

Hernude krag word agter die afkampingsveldtog ingegooi..

Vrydag-aand hou ons bure lekker partytjie in die volmaan - musiek, braaivleis en lag. 

Geen ander keuse as om terug te bons nie.

Almal is gelukkig en vrolik en gesels, ook oor die korrupsie in die regering en land.

Alles is terug na normaal en ons slaap lekker met ons alarms aan.

Saterdag-oggend vroeg skuifel (draf is te vinnig vir my..) ek rustig hier in ons pragtige boomryke buurt. Ek en Beer werk ‘n PVA uit as die rowers dalk by ons toeslaan, en ons kuier gesellig later in die dag by liewe Ouma en Oupa en ruil maté-tee, biltong, bobotie, jam en natuurlik rooiwyn (vir moontlike Covid lockdown) uit.

Oppad huistoe klingel die WA-groep weer – ‘n verdagte voertuig staan in die straat – buurtwag gaan kyk, dit is ‘n vals alarm.

Klingel, klingel - kan iemand ‘n slang wat in die buitewasbak vassit, kom uithaal? Woerts, weg is die slang. In hierdie buurt is manne wat nie bang is vir slange nie!

Ons is skaars terug by die huis, en ons Anonieme wettige immigrant bel ons in ‘n toestand, hulle wil hom uitsit uit sy blyplek.

Chaos, vrees en angs.

Ek het lanklaas ‘n man met soveel werksetiek en intergriteit gesien, so ek twyfel of hy nie sy huur betaal het nie.

In die week wat verby is, het ek en hy lekker gesels oor die skaarste van water, en sy land en hulle krisis met beurtkrag. Hy spaar nou vir solar-panele vir sy boorgat van 16m of 66m? (hy kan dit nie mooi uitspreek nie), om huistoe te stuur, sodat sy mense ook kan water hê met beurtkrag. Hy bly in ‘n kamer, werk as ‘n tuinwerker en hy het nog geld om te spaar vir sy familie!

Beer probeer die situasie op die foon kalm te hou met ‘n geskrouery en ‘n gegillery in die agtergrond.

So tussen die bellery en probeer uitvind waar hy nou bly, kom ons agter xenofobie is die eintlike probleem.

Hy het kans tot Maandag om vir hom en sy vrou ander blyplek te kry. Dit is ‘n moeilike situasie – hy neem landsburgers wat nie wil werk nie, se werk, en die wat strike omdat hulle moet werk, se werk, maar hy werk en hy werk hard, en hy is trots en sorg vir sy familie doer ver.

Hy bel weer, die situasie is kalm, ons hoef nie meer te kom nie.

Klingel, klingel – die groep stuur ‘n foto van ‘n rower wat onverwags gevang is en vasgebind op die gras lê.

En buite in die tuin roep ‘n  gevelkte ooruil – hooo hooo.

Dalk kan ons darem vanaand rustig ‘n fliekie kyk..

Maan-‘n-wales.

Met die maan gepla?

Ek weet nie, maar die lekker skaaptjoppies is uitgehaal vir môre se braai.