Jip, dit was en is ‘n baie slegte tyd in my lewe, wat ons maar so met
die tyd sal deur werk en hopelik gesond word en al die littekens minder rooi en
sagter word.
My storie gaan eintlik oor Maslow se teorie oor behoeftes. Vandat die
kinders in Graad 4 is, leer hulle mos van Maslow se teorie, en jy probeer die
driehoek in hulle kop kry. Ek moet sê, na die eksamen vergeet ek net so vinnig
van ou oom Maslow, net tot die volgende jaar…
So sit ek mos toe nou die dag, platgeslaan deur ‘n erg traumatiese
huwelik, by my sielkundige en sy noem vir Maslow.
My oë rek. Maslow? Regtig? Hy het net ‘n teorie! Ek is ‘n feite mens,
ek werk nie op uit die lug teorië nie.
Na my egskeiding moes ek uit my huis uit.
Dus skei en trek.
Blykbaar twee van die grootste traumas wat ‘n mens kan beleef, volgens
nog sielkundiges se teorië.
My bodem, ons bodem het uitgeval.
En daar besef ek toe dat ou oom Maslow dalk nie so verkeerd was nie..
My heel onderste bodem was weggevat in my huwelik, verder wil ek nie
uitbrei nie. As jou bodem wegval, dan val alles plat.
Ek beland in Vista, boek myself onmiddelik weer uit(het nie eers my
kamer gesien nie), en boek myself weer in na ‘n gesmekery van familie. Na 5 dae
sê ek vir die dokter, ek gaan nou huistoe.
En nou moet die opbou weer begin.
Tap vir jou ‘n lekker warm bad water, smeer jou lyf lekker sagte room,
net die basiese. Eet lekker, kos waarvoor jy al so lankal lus was.
Na ongeveer ‘n jaar is die bodem terug.
Veiligheid – ja, daar stap toe iemand in ons lewe, nie lank na my
egskeiding in wat vir ons sekuriteit en veiligheid bied.
Dit het baie gehelp om weer die piramide net op die been te kry.
Wel, hy is nou ook weer uit ons lewe, ons Maslow se behoeftes het te
veel verskil.
Veiligheid en sekuriteit is minder, maar ons het darem al gesettle in
ons huisie. So ja, ons sukkel nog by vlak twee en so af en toe kom ons by vlak drie
uit.
Vlak vier is nog baie ver, maar stappie vir stappie sal die piramide
weer opgebou word.
Nog ‘n slim outjie sê mos, tyd genees.
Ai, wens die tyd is al om dat ek by my punt van die piramide kan wees!
Dankie vir almal se ondersteuning in my en my twee wonderlike dogters se
lewe gedurende hierdie hel-tyd wat verby is en die sukkeltyd wat nog voor lê.
Ja, ou oom Maslow, jy was toe al die tyd reg…