Tuesday, 14 October 2014

Ek en my moskombersie

My huis was die laaste paar maande propvol. 

Ons kry toe mos vir Vanessa van Duitsland vir 3 maande op ‘n uitruilskema.
Wat ‘n engelkind. Sommer so in ons huis ingegly sonder enige drama en dinge.
 
‘n Duitser in Suid-Afrika – vir die meeste kinders ‘n nuuskierigheid en ‘n rede om te kuier.
Dus was daar heeltyd ‘n toe-loop van tieners by my.
Dit begin toe sommer dat hulle al drie (Vanessa ook) krefies is en almal in Julie verjaar.
Partytjie op partytjie.

So ‘n maand voor Vanessa weggaan, begin die afskeidspaarties – die eerstes van die spul is maar daar as ek op ‘n Vrydag na werk huis toe kom en die laastes ry Sondag-middag.
Ek het net een reël gehad- julle maak skoon agter julle!
En so wraggies, hulle wou so beïndruk en alles het mooi skoon gebly.
Ek het dit so geniet met ‘n huis vol kinders, alhoewel ek ook maar soms hard gewens het vir stilte.

En toe tref dit my – ewe skielik.
Onverwags.
Net so.

Binne 10 dae is my huis dolleeg, doodstil en botsstil.
Net so onmiddellik.
Die vyand (my tieners), is almal weg.
Sommer so.
Gister het ek gesmeek vir ‘n bietjie rustigheid en kalmte, en vandag is hulle almal weg.
My huis is stil – doodstil.

Vanessa is langtand en met baie trane van almal weer terug na haar huis toe.
Mishka – my jongste – is in Duitsland vir haar gedeelte van die uitruilskema.
Marike is saam met my sussie Boggoms toe.
My oom is terug Kanada toe.
My ouers is Graskop toe vir ‘n breukie.
My man besig soos altyd.

Ek sê mos heeltyd, ek kan nie WAG dat my tieners uit die huis is nie, ek het soooveel om te doen.
Leë nes sal my nie tref nie!
Te veel dinge, te min dae..

En ewe skielik is ek stoksielalleen.
Net so.
Sommer ewe skielik.

‘n Week gelede het ons lekker troue gehou – al die nigs en neefs weer gesien.
Net weereens besef wat familie beteken.
Jy tel mos sommer net op daaaar waar jy laas gelos het.
Daar is mos so ‘n onsigbare band van lojaliteit en saamstaan, wat mens besef as almal saam is en lekker lag.

En nou weer om al die stukkies op te tel.
Mens raak so besig met jou harwar lewe. Skarrel hier vir die kinders, reël hier vir ‘n skoolding, daar vir ‘n dokter en ewe skielik, is almal weg!
Sommer so!

Dis om soos voor te begin, nou het ek al die tyd om alles te doen, maar waar is die lus?
Weg-gevlieg saam met my kinders?
Ek dwaal hier rond in die huis soos ‘n spook, vat hier en vat daar, niks kry koers nie.
Mis die drukkies en af-en-toe soentjies, ek verlang skoon na die alewige uitputtende brein-speletjies om heeltyd een voor die vyand te wees,
die maak asseblief jou kamer skoon,
jy kan NIE weer games speel nie,
LOS tog die foon en praat ‘n bietjie met my..

Ek verstaan dit nie, het so gewêeens vir meer tyd, en nou is dit of ‘n lammigheid die tyd op eet.
Dit is dan wanneer mens besef hoe warm jou familie jou hou, hoe gelukkig is ons met familie-kombersies rondom ons.
Wat dit beteken om daar te wees vir mekaar, al word ons soms warm om die kraag.
Bloed is dikker as water.

Waardeer mekaar terwyl julle nog saam is, mekaar nog het.

My nes en hart sal seker weer vol word,
die irritasie van skoene wat oral lê,
‘n deurmekaar kombuis,
‘n slap tiener op die bank verslaaf aan haar foon,
maar ook die drukkies en die hartseer van harte wat gebreek is en
die mis van ‘n ma deur die probeer grootwees,

en my nes sal seker ook weer krimp,
met die teenwoordigheid van ‘n leegheid,
die behoefte om nodig te voel,

maar daar is darem die wete ons moskombersies is altyd rondom ons,
al is hulle ver en nie meer IN jou nessie nie.

Dankie vir omgee en liefde deur mense wat my liefhet.