Monday, 12 May 2014

Eksperimente en Tarzan toue



Kyk, om ‘n tiener te wees, is moeilik. Om ‘n tiener se ma te wees, is nog moeiliker. 
Om ‘n tiener se ma met twee dogters te wees is regtig ‘n uitdaging. 
Om ‘n tiener se ma te wees met hormoonbelaaide-tieners en rooi hakskene en belustige boyfriends is amper ‘n onmoontlike saak.

Die donkergat monster het my mos toe ook beetgekry.  
Al la…ankal al.
Ek dink hy het so  saam met die egskeiding so 10 jaar gelede gekom en sommer so daar gebly en lekker gevreet so met al die aanpassings met tieners, nuwe huis en saamgestelde gesin.  
En hy bly klou soos ‘n dikgevrete ou bosluis.

Die dokters gee mos maar pille en soms werk hulle en soms ontwikkel die simpel bosluis ‘n weerstandigheid wat jou pille se effektiwiteit tot zero maak. So met al die stresse van werk (ja, Mnr Zuma – ek is wit, so ek kry stress), en warm tieners en die taxis op die pad en boonop die suigende bosluis het my brein net heeltemal ‘haywire’ gegaan.
My dokter gee vir my nuwe pille om te kyk of ons die bosluis nie kan laat afval nie of die gat kan kleiner maak.

Kyk, ek HAAT hierdie pille.

So ek sal regtig enige iets probeer wat die newe-effekte minder maak. So moeg vir eetlus en vet word, elke nag se sopnat sweet, die lae vlak van emosies, en die lus vir ‘n lekker huil, maar dit wil net nie kom nie en dan natuurlik die beskuldings van mense – “Dis die pille – los die goed!”
So ek probeer maar die nuutste uitvindsel op die mark, werk blykbaar op jou melatonien en nie op jou serotien nie, en jy kan weer gevoelens hê!
En baie mense het soveel sukses met dit!
So, as dit werk sal ek bly wees. 
Dit sal so lekker wees om weer uit jou maag te lag, jou sopnat te huil oor ‘n simpel ou fliekie of sommer net te kan VOEL.

My gevoelens het toe teruggekom, en sommer in 100 kwadraat faktore.
Eers net die irritasie – ‘n taxi wat voor jou indruk, ‘n kind wat te parmantig is, ‘n bediende wat treurig verby is.
Die irritasie verander mos toe sommer in aggressie.

Goed opgewarmde aggressie.
‘n Kollega of twee het nie weer kom twak praat nie,
as ek ‘n rewolwer gehad het, en NOG ‘n kar druk voor my in, het ek hom al LANKAL vrek geskiet,
my useless bediende het so wraggies begin afstof nadat ek haar GOED vasgetrap het,
my twee tieners het sommer begin fluks word in die huis – hulle dink nog of hulle die beker op die tafel gaan los, dan is die ma al op hulle!
My man het aanvanklik terug baklei, maar later toe maar net op sy tande gebyt – hierdie ding gaan lelik word…

Maar hier in my binneste weet ek, ek is besig om ‘n lelike mens te word, die goeie sagte ma wat alles opvreet en alles vir almal doen is weg.
Ek moet sê - dit het sy voordele gehad.

Ek hang aan hierdie boomtoue waaraan Tarzan geswaai het, behalwe dat ek nie krete van vreugde gee en van een tou na die ander jubel nie, ek is net te moeg.
Om die waarheid te sê, ek hang net aan een tou en klou vir lewe en dood om nie heeltemal in die donker leë gat te val, val ,val nie.

Ek kan net nie steurnisse van buite hanteer nie, nog ‘n stukke van die die tou skeur elke keer.
Mense wat regtig niks het om oor te kla nie, wat alewig kla,
mense wat heeltyd spog met hulle tieners wat to soooo goed doen en absoluut niks verkeerd doen nie en by die huis moet ek net hormone in orde klap,
of sommer net mense.
Mense bly maar ‘n irriterende spesie.
Verkeer – weereens met freaken ONGESKIKTE mense.
Oprukkerige tieners,
Oprukkerige lui bediendes.

En met elke steurnis breek  daar nog ‘n stukke van die tou en die gat glip nader, en ek sê jou, my arms raak moeg. Lam.
Hoe lank kan mens so hang tot jou arms ook nie meer kan nie?
Ek swaai maar net en vrees dat  die wind nie te sterk word nie, en dat daar nie iets is wat te veel energie vat nie,
ek hang maar net..

My brein is darem sterk, so hy oorwin nog die fisiese gedaanheid.
Weet nie vir hoe lank nog nie…

My brein oortuig my darem dat aggressie en irritasie ook gevoelens is, maar vir my eie veiligheid en om nie in die tronk te beland nie, is dit dalk maar die beste om minder gevoelens te hê.
So ek luister toe maar vir my brein, en los die “nuwe” pille.
Nou is daar net die moegheid, die afheid en die gedaanheid en ‘n ligte mate van irritasie en aggressie. ‘n Ou kalmeerpilletjie so nou en dan help darem ook.

Môre gaan ek darem weer na my dokter, hopelik dit sal beter gaan ,
sodat ek weer vir ‘n taxi wat voor my indruk, net my kop voor kan skud,
my kinders se warm geite beter hanteer en
my bediende te fire. :)

Hopelik val die dikgevrete bosluis af en iemand trap hom dat die bloed so spat.
Nou ja, wie nie waag nie, wen nie…