Tuesday, 14 October 2014

Ek en my moskombersie

My huis was die laaste paar maande propvol. 

Ons kry toe mos vir Vanessa van Duitsland vir 3 maande op ‘n uitruilskema.
Wat ‘n engelkind. Sommer so in ons huis ingegly sonder enige drama en dinge.
 
‘n Duitser in Suid-Afrika – vir die meeste kinders ‘n nuuskierigheid en ‘n rede om te kuier.
Dus was daar heeltyd ‘n toe-loop van tieners by my.
Dit begin toe sommer dat hulle al drie (Vanessa ook) krefies is en almal in Julie verjaar.
Partytjie op partytjie.

So ‘n maand voor Vanessa weggaan, begin die afskeidspaarties – die eerstes van die spul is maar daar as ek op ‘n Vrydag na werk huis toe kom en die laastes ry Sondag-middag.
Ek het net een reël gehad- julle maak skoon agter julle!
En so wraggies, hulle wou so beïndruk en alles het mooi skoon gebly.
Ek het dit so geniet met ‘n huis vol kinders, alhoewel ek ook maar soms hard gewens het vir stilte.

En toe tref dit my – ewe skielik.
Onverwags.
Net so.

Binne 10 dae is my huis dolleeg, doodstil en botsstil.
Net so onmiddellik.
Die vyand (my tieners), is almal weg.
Sommer so.
Gister het ek gesmeek vir ‘n bietjie rustigheid en kalmte, en vandag is hulle almal weg.
My huis is stil – doodstil.

Vanessa is langtand en met baie trane van almal weer terug na haar huis toe.
Mishka – my jongste – is in Duitsland vir haar gedeelte van die uitruilskema.
Marike is saam met my sussie Boggoms toe.
My oom is terug Kanada toe.
My ouers is Graskop toe vir ‘n breukie.
My man besig soos altyd.

Ek sê mos heeltyd, ek kan nie WAG dat my tieners uit die huis is nie, ek het soooveel om te doen.
Leë nes sal my nie tref nie!
Te veel dinge, te min dae..

En ewe skielik is ek stoksielalleen.
Net so.
Sommer ewe skielik.

‘n Week gelede het ons lekker troue gehou – al die nigs en neefs weer gesien.
Net weereens besef wat familie beteken.
Jy tel mos sommer net op daaaar waar jy laas gelos het.
Daar is mos so ‘n onsigbare band van lojaliteit en saamstaan, wat mens besef as almal saam is en lekker lag.

En nou weer om al die stukkies op te tel.
Mens raak so besig met jou harwar lewe. Skarrel hier vir die kinders, reël hier vir ‘n skoolding, daar vir ‘n dokter en ewe skielik, is almal weg!
Sommer so!

Dis om soos voor te begin, nou het ek al die tyd om alles te doen, maar waar is die lus?
Weg-gevlieg saam met my kinders?
Ek dwaal hier rond in die huis soos ‘n spook, vat hier en vat daar, niks kry koers nie.
Mis die drukkies en af-en-toe soentjies, ek verlang skoon na die alewige uitputtende brein-speletjies om heeltyd een voor die vyand te wees,
die maak asseblief jou kamer skoon,
jy kan NIE weer games speel nie,
LOS tog die foon en praat ‘n bietjie met my..

Ek verstaan dit nie, het so gewêeens vir meer tyd, en nou is dit of ‘n lammigheid die tyd op eet.
Dit is dan wanneer mens besef hoe warm jou familie jou hou, hoe gelukkig is ons met familie-kombersies rondom ons.
Wat dit beteken om daar te wees vir mekaar, al word ons soms warm om die kraag.
Bloed is dikker as water.

Waardeer mekaar terwyl julle nog saam is, mekaar nog het.

My nes en hart sal seker weer vol word,
die irritasie van skoene wat oral lê,
‘n deurmekaar kombuis,
‘n slap tiener op die bank verslaaf aan haar foon,
maar ook die drukkies en die hartseer van harte wat gebreek is en
die mis van ‘n ma deur die probeer grootwees,

en my nes sal seker ook weer krimp,
met die teenwoordigheid van ‘n leegheid,
die behoefte om nodig te voel,

maar daar is darem die wete ons moskombersies is altyd rondom ons,
al is hulle ver en nie meer IN jou nessie nie.

Dankie vir omgee en liefde deur mense wat my liefhet.

Monday, 12 May 2014

Eksperimente en Tarzan toue



Kyk, om ‘n tiener te wees, is moeilik. Om ‘n tiener se ma te wees, is nog moeiliker. 
Om ‘n tiener se ma met twee dogters te wees is regtig ‘n uitdaging. 
Om ‘n tiener se ma te wees met hormoonbelaaide-tieners en rooi hakskene en belustige boyfriends is amper ‘n onmoontlike saak.

Die donkergat monster het my mos toe ook beetgekry.  
Al la…ankal al.
Ek dink hy het so  saam met die egskeiding so 10 jaar gelede gekom en sommer so daar gebly en lekker gevreet so met al die aanpassings met tieners, nuwe huis en saamgestelde gesin.  
En hy bly klou soos ‘n dikgevrete ou bosluis.

Die dokters gee mos maar pille en soms werk hulle en soms ontwikkel die simpel bosluis ‘n weerstandigheid wat jou pille se effektiwiteit tot zero maak. So met al die stresse van werk (ja, Mnr Zuma – ek is wit, so ek kry stress), en warm tieners en die taxis op die pad en boonop die suigende bosluis het my brein net heeltemal ‘haywire’ gegaan.
My dokter gee vir my nuwe pille om te kyk of ons die bosluis nie kan laat afval nie of die gat kan kleiner maak.

Kyk, ek HAAT hierdie pille.

So ek sal regtig enige iets probeer wat die newe-effekte minder maak. So moeg vir eetlus en vet word, elke nag se sopnat sweet, die lae vlak van emosies, en die lus vir ‘n lekker huil, maar dit wil net nie kom nie en dan natuurlik die beskuldings van mense – “Dis die pille – los die goed!”
So ek probeer maar die nuutste uitvindsel op die mark, werk blykbaar op jou melatonien en nie op jou serotien nie, en jy kan weer gevoelens hê!
En baie mense het soveel sukses met dit!
So, as dit werk sal ek bly wees. 
Dit sal so lekker wees om weer uit jou maag te lag, jou sopnat te huil oor ‘n simpel ou fliekie of sommer net te kan VOEL.

My gevoelens het toe teruggekom, en sommer in 100 kwadraat faktore.
Eers net die irritasie – ‘n taxi wat voor jou indruk, ‘n kind wat te parmantig is, ‘n bediende wat treurig verby is.
Die irritasie verander mos toe sommer in aggressie.

Goed opgewarmde aggressie.
‘n Kollega of twee het nie weer kom twak praat nie,
as ek ‘n rewolwer gehad het, en NOG ‘n kar druk voor my in, het ek hom al LANKAL vrek geskiet,
my useless bediende het so wraggies begin afstof nadat ek haar GOED vasgetrap het,
my twee tieners het sommer begin fluks word in die huis – hulle dink nog of hulle die beker op die tafel gaan los, dan is die ma al op hulle!
My man het aanvanklik terug baklei, maar later toe maar net op sy tande gebyt – hierdie ding gaan lelik word…

Maar hier in my binneste weet ek, ek is besig om ‘n lelike mens te word, die goeie sagte ma wat alles opvreet en alles vir almal doen is weg.
Ek moet sê - dit het sy voordele gehad.

Ek hang aan hierdie boomtoue waaraan Tarzan geswaai het, behalwe dat ek nie krete van vreugde gee en van een tou na die ander jubel nie, ek is net te moeg.
Om die waarheid te sê, ek hang net aan een tou en klou vir lewe en dood om nie heeltemal in die donker leë gat te val, val ,val nie.

Ek kan net nie steurnisse van buite hanteer nie, nog ‘n stukke van die die tou skeur elke keer.
Mense wat regtig niks het om oor te kla nie, wat alewig kla,
mense wat heeltyd spog met hulle tieners wat to soooo goed doen en absoluut niks verkeerd doen nie en by die huis moet ek net hormone in orde klap,
of sommer net mense.
Mense bly maar ‘n irriterende spesie.
Verkeer – weereens met freaken ONGESKIKTE mense.
Oprukkerige tieners,
Oprukkerige lui bediendes.

En met elke steurnis breek  daar nog ‘n stukke van die tou en die gat glip nader, en ek sê jou, my arms raak moeg. Lam.
Hoe lank kan mens so hang tot jou arms ook nie meer kan nie?
Ek swaai maar net en vrees dat  die wind nie te sterk word nie, en dat daar nie iets is wat te veel energie vat nie,
ek hang maar net..

My brein is darem sterk, so hy oorwin nog die fisiese gedaanheid.
Weet nie vir hoe lank nog nie…

My brein oortuig my darem dat aggressie en irritasie ook gevoelens is, maar vir my eie veiligheid en om nie in die tronk te beland nie, is dit dalk maar die beste om minder gevoelens te hê.
So ek luister toe maar vir my brein, en los die “nuwe” pille.
Nou is daar net die moegheid, die afheid en die gedaanheid en ‘n ligte mate van irritasie en aggressie. ‘n Ou kalmeerpilletjie so nou en dan help darem ook.

Môre gaan ek darem weer na my dokter, hopelik dit sal beter gaan ,
sodat ek weer vir ‘n taxi wat voor my indruk, net my kop voor kan skud,
my kinders se warm geite beter hanteer en
my bediende te fire. :)

Hopelik val die dikgevrete bosluis af en iemand trap hom dat die bloed so spat.
Nou ja, wie nie waag nie, wen nie…


Wednesday, 8 January 2014

Ons Matriek

Vandag het ek my matriekuitslae gekry – vir die tweede keer.

Wat ‘n stresvolle jaar wat verby is! Duisend keer erger as my eerste keer.
My kollega sê mos hoeka die begin van die jaar – sterkte kollega, dit gaan taai wees! Dis nie maklik om ‘n kind in matriek te hê nie!

Dr Kobus Neethling met sy linker-en regterbrein studies het my reeds begin fassineer toe my kinders klein was.
So doen ek mos al wat ‘n toets om uit te vind of ons linker- of regterbrein is. So kom ek toe met ‘n skok agter ek is die ENIGSTE linkerbrein in die gesin!
Ek dink, beplan en doen.
Die res?
Doen, voel en o gaats! Ek moes dit nie so gedoen het nie!!
Ons het heelwat koppe gestamp – die ma wat ten minste 3 dae voor die tyd wil weet wat hule beplan vir die naweek, en hulle wat op die ingewing van die oomblik van plan kan verander!
Ons het mekaar maar geslyp soos die tye aanstap.

So is my oudste, my drama-kind, my uittoets-kind, my gevoelskind mos toe nou 2013 in matriek.
En kyk, dit was omtrent ‘n paadjie om te stap tot daar, so saam met die bipolêre-depressie-wolf wat elke jaar so van Augustus af uitkom, en trek en trek en aftrek tot in die gat.
So teen Februarie is hy moeg baklei en los ons weer vir ‘n rukkie tot die eksamens begin...
So het ons saam met die sielkundige, psigiater, oumas en oupas, ooms en tannies, onderwysers en skool baklei teen hierdie wolf.
Elke jaar as die eksamen kom en my kind sak dieper in die gat, moet ons stokke uithaal en baklei teen hierdie wolf.
Ons moet mooi praat, smeek, troos, saam leer om nog ‘n jaar agter die blad te kry.

Verskonings of redes om van die angs af weg te kom was baie:
Mamma, jy was so ‘n ou pliggie op skool! (Nie dat die ma daaroor spyt was nie, sy is immers linkerbrein, pas mooi in die struktuur),
My maag pyn,
my kop is seer,
ek kry nie asem nie!
Die kinders raas in die klas,
die onderwysers is simpel, hulle maak my angstig,
ek kan nie konsentreer nie,
home-schooling asseblief mamma?!
Mamma, ASSEBLIEF!!!
Mamma, ek kan nie meer NIE!!

Mamma, ek KAN NIE meer nie!!
Mamma, EK KAN NIE!!
MAMMA!!
Asseblief Mamma?
Mamma, asseblief....

Die sms’e word van vroeg af vir mamma gebombardeer – elke liewe skooldag,
dag na dag,
soms begin ons vroeg, soms is die ma gelukkig, dan begin ons so na pouse.
Elke liewe dag moet die ma evalueer:
hoe diep is die gat vandag?
hoeveel drama is daar bygevoeg vandag?
hoeveel angs is daar regtig?
Kan sy nog twee periodes uithou?
Moet sy ALweer die skool bel vir afwesigheid?
Die ma staan vas, die ma huil saggies in haar kantoor, die ma sug en wonder of sy die regte ding gedoen het, sou home-schooling nie beter gewees het nie?
Sy bly maar by haar linkerbrein-kop-besluit.
Ons sal skool in ‘n skool klaar maak.

So land ons toe uiteindelik in Matriek.
Nou is dit net vasbyt en deurdruk.
Dink net aan jou matriek-afskeid!
Jy wil tog nie twee keer in matriek wees nie?!
Byt vas my kind, byt vas.
Die ma slaap al met ‘n bytplaatjie...

Die wolf slaan toe die jaar toe later. Net toe ek dink ons het hom redelik onder beheer met die medikasie.
Hy storm toe volspoed uit hier so tussen die Maart en Julie eksamen.
Hy byt so vas, trek my kind tot binne-in Denmar in.
Drie weke ontvlug sy.
So goed dit die vorige keer was vir haar, hoe sleg was dit die keer.
My kind wil nie realiteit in die gesig staar nie, ignoreer die probleem, dan gaan dit verby.
Jy KAN NIE Matriek ignoreer nie!!
Jy MOET eksamen gaan skryf!
Ek en die dokter baklei om haar uit die gat te kry, die sielkundige trek en trek.
Die juffrouens dra opsommings aan, troos en help sover hulle kan.
Ons sit Saterdae saam en leer, Ouma help opsom, treetjie vir treetjie kom ons tot by die eksamen.


Angs, angs angs.
Asem-tekorte.
Opspring en uit die eksamenlokaal hardloop,
Trane,
Verslaap,
Die ma stuur engelklippies, engel-veertjies, Lig en baie gebede saam met my kind.

My kind probeer ALS om uit hierdie ding te kom, kyk, my kind kan ‘n Oscar wen met haar drama, maar die ma besef ook die verskriklike, onbegryplike vrees en angs.

Het die ma die regte ding gedoen om hierdie regterbreinkind in hierdie linkerbrein model skool in te druk?

Die ma twyfel, die ma is moedeloos.
Klou maar self om nie in die gat te val nie.
Sou home-schooling nie ‘n beter opsie gewees het nie?
Het my regterbreinkind die dissipline daarvoor?
Sou die wolf dan minder wou byt?
Iemand moet sterk staan en besluite neem of dit nou reg of verkeerd is, matriek moet my kind kry. Ons skoonmakers moet dan matriek hê!

So stoei ons die Julie-eksamen deur – net net.
Die hele vakansie slaap sy om.
Die ma kan weer een nag sonder haar bytplaatjie slaap.


Die ma is bekommerd, die tyd vir die gat kom nader, en ons is nog nie eers heeltemal uit die eerste gat nie.
Rekord-eksamen lê voor.
Die ma en dokter en sielkundige en ouma staan gereed moet die stokke en swaarde – ons het nou al te ver gekom, ons gaan nie nou tou opgooi nie?!!
Dankie vir matriek-afskeide, dit hou my kind opgewonde, skuif die rekord-eksamen vrese agtertoe.
Ons skraaaap deur.
Dankie aan onderwysers, oumas, engele en baie skurfgeskaafde knieë.


So breek die eindeksamen aan, my kind ignoreer alle feite.
Sy gebruik volstruis-taktiek.
Druk die kop in die grond, dan is daar niks!


Die ma is klAAr,op!
Hoe het sy in elk geval gedink hierdie stukkie gaan maklik wees, omdat ons so Amper op die einde is?

Dit is dan die laaste stukkie wenpaal toe,
altyd die moeilikste...
Die ma is gedaan.

Ons is so Amper daar – het nou al jarre vasgebyt!
Kom my kind, dis die laaste hobbeltjie – ons gaan nie nou dat die wolf wen nie, ons het te ver gekom,
te swaar gekry,
te veel baklei,
ons moet nou net deurdruk.
Mamma!
Dis nie ‘n hobbeltjie nie,
DIS ‘n BERG!
Die DRAKENSBERGE!!
In my kop voel dit vir die ma ook so, maar moet maar weereens die front voorhou.

Vasbyt,
aanhou,
deurdruk.

Ons is almal in rafels – die stress raak te veel, die wolf het maters gekry, jy veg net om self bo te bly.
Iewers van Bo kry die ma vrede, my kind is immers 18, sy moet nou maar met haar keuses leef. Of sy wil leer, deurkom, die jaar herhaal, is haar besluit.
Die ma kan net SOveel help.
Die skool se 100% slaagsyfer motiveer ook, ons bly maar motiveer.
So tussen angsaanvalle, bewerasies en uit-die-bed-skop skryf ons matriek klaar.

Ons drink sommer daai aand ‘n bottel sjampanje uit! Sommer so uit die bottel!
Ons het dit immers tot hier gemaak!
Mam is trots op jou my kind, jy het tot hier gekom.
Ons het dit wraggies gemaak!!
Wat die uitslae sê, kan ons nou niks aan doen nie – net wag.

Ons almal so gedaan, ons besluit sommer om saam volgende jaar ‘n gap –jaar te vat. My kind moet maar eers self leer om haar eie wolwe te beheer en dinge in die oë te kyk.
Die ma is klaar met skool.
Vir nou voel dit soos vir altyd.

En ons wag en wag met ‘n benoude gevoel vir die uitslae.

Hoe nader die tyd, hoe stiller word my kind, hoe meer kruip sy weg.
Die arme ding – sy is soooo benoud.
Ons almal het maar ‘n beklemming of twee om ons hart.

Het ons hard genoeg baklei?
Het ons genoeg ingesit?
Die ma glo onwrikbaar – ons sal dit maak.

Die uitslae kom nader...
Ons harte begin vinniger klop..
Ons slaap maar min..

Vanoggend 6 uur kry ons die sms.

My hart klop in my keel...

Marike is DEUR!!! Met Universiteitstoelating!
Ons het dit geMAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAK!!!

Dankie, dankie dankie vir almal se ondersteuning – van medici, vriende, familie, engele en God.

ONS IS DEUUUUUUUUUR!!!!
YAHOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOHA!!!
Vat so wolf! Gaan tjank daar doer onder! Ek gee jou sommer nog ‘n skop!