“Mamma!
Kyk daai ou baba-voëltjie het uit sy nessie geval!” sê my oulike klein
dogtertjie en ons neem die voëltjie huistoe om te probeer groot te maak. Soos
gewoonlik maak die voëltjie dit nie.
Soos my kinders groter word deur die
jare het ons baie voëltjies en duifies probeer groot maak, soms met sukses, die
meeste nie.
Nou die dag sien ons weer ‘n duifie op
die grond – my tienerdogter loop verby en wonder waar is die ouers. Die ma sê
toe “Nee, die duifie is al groot genoeg , die nes is te klein -hy het seker sy
ouers begin irriteer in die nes.”
En so raak my huis mos ook so kriewelrig
en te knap met al die groeiende, etende tieners.
“Mamma, gaan uit my kamer uit!
Jy is in “my space”! “
Oral lê daar tieners op die banke rond
en knaag knaag knaag, of die harde musiek in jou ore gee jou pyne in jou lyf
waarvan jy nie eers geweet het nie.
Straf bly maar ‘n probleem – kan nie
meer ‘n lekker warm boud gee nie, moet oor alles redeneer en redes verskaf en
afpers met as jy dit nie doen nie, dan doen ek dit nie.
Hierdie emosionele wipplanke van
hormoon-belaaide rooihakskeen dogters maak die ma klaaaaar.
So doen my jongste mos nou die minimum
in die skool, die ma is raadop.
“Mamma – ek gaan nie my boeke vir jou
wys nie!
Vertrou Ma my nie?
Rêrig Ma!
Hou op om so in my space te wees!
Ek doen mos my werk!”
Al wat die ma hoor is hoe die een
kinderagtige dogtertjie nou weer skinder en wat daai ou simpel seuntjie weer
aangevang het en hoe groot haar ‘ass’ is en haar hare moet weer gekleur word en
die ou hemp laat haar heupe te groot lyk en en en.
Die ma se kop moet inrat kom, want op ‘n
manier moet ons die akademie ‘n prioriteit maak. Ek wil nie die perdry wegvat
nie, want dit is haar enigste uitlaatklep.
So kom die toetse en die minimum word
gedoen – “Rêrig Ma!
Ek is nie meer klein nie.
Ja, ek ken my werk.
Ek het dit al twee keer deurgegaan!! “
Die ma is moeg gebaklei, hopelik is
‘voel aan jou lyf’ ‘n goeie leerskool.
Die rapporte kom, dit word eers so stilweg
twee dae van my af weggehou, en ek weet sommer, die punte lyk nie soos dit moet
nie.
Die ma is nog steeds raadop – wat gaan
ek doen moet hierdie kind?!
So moeg om te onderhandel met die
superslim tiener – Ja, as jy soveel kry, ja okay, dan kan ons kyk of ons dit kan kry vir jou perd.
Onderhandel, onderhandel, onderhandel.
Wat van doen net ‘n ding?!!!!
Bo verbasing lyk die rapport nie té sleg
nie – maar ek besluit toe tog maar om oueraand toe te gaan.
So
vind ek mos toe uit mêrrem doen een keer ‘n week nie haar Afrikaanse huiswerk
nie, en het ‘n paar inskrywings van te veel praat in die klas. Ek en die meneer
skinder lekker oor rooihakskeentjies en hormone en ek vra hom om haar reg voor in die klas te skuif.
Mêrrem lê lekker uitgestrek op die bank
voor die tv toe ek by die huis kom.
Lui-lui , selfversekerd maar hoogs
nuuskierig “Ma, wat sê die onderwysers?”
“Meneer Afrikaans sê jy doen nie gereeld
jou Afrikaanse huiswerk nie, en jy praat te veel in die klas. “
Sy giggel met bravade. “Ek het hom gevra om jou reg voor in die klas
te skuif.”
Die lui tiener spring regop met ‘n spoed
van wit-lig.
“Ma, het WAT?!!!”
“Ek glo dit nie!!!!”
Ja, as jy nie kan konsentreer waar jy
sit nie en te veel praat met die outjies, moet hy jou help om beter te
konsentreer.
“Ma!!!
Ek sterf!!!
Daai meneer sal voor ALMAL môre in die klas sê my ma het gesê ek
moet voor in die klas sit!
Hoe KAN Ma so iets aan my doen??!!
En dan sê Ma nog ek praat met die
outjies!
Hoe laat dit my lyk?!!!
Ek glo dit nie!!!”
Ek is nog verantwoordelik vir jou, as jy
nie jou werk doen nie, en jy kan nie self kyk dat jy dit doen nie, moet ek maar
‘n plan maak.
Die ERG vernederde tiener storm na haar
kamer toe en sit haar musiek kliphard. Gelukkig slaan sy die deur toe so ek
hoor nie eintlik die musiek nie…
Die ma sit rustig op die bank en lyk soos
‘n kat wat room gekry het.
Vatso my ou voëltjie, hierdie bly
nogsteeds MY nes!