Thursday, 29 March 2012

Regterbreine en model-robotjies

Wanneer jou kinders klein is, moet hulle mos al wat ‘n aktiwiteit doen vir hulle ontwikkeling. Een of ander musiekinstrument vir as hulle musikale aanleg het, ‘n balsport vir koördinasie, gimnastiek, ballet of dans vir ‘n mooi fier houding en so gaan dit aan. Die arme bloedjies, wanneer kry hul tyd vir tv kyk? :)
Wel, so met al die navorsing om jou kind in ‘n heelmens te ontwikkel en om begrip te kry vir elke bloedjie, het die ma mos toe op die linker-en regterbreinprofiele vasgehaak. Toetse gedoen, resultate gekry, en ek moet erken tot nou dat hulle tieners is, baat dit my nog steeds.

Groot was my skok egter destyds toe ek besef my hele huisgesin is regterbrein en die ma is die enigste linkerbreinsiel. 
Ek was omtrent jammer vir myself! 
Die ma wil vroeg in die week alles beplan hê vir die week, watter maatjies kom die naweek, sodat sy vroegtydig die maaltye en slaapgeriewe kan beplan. 
En bewaar jou siel as haar planne deurmekaar gegooi word! Haar hele wese word geskud en die stres van planne verander neem sy tol op die hele huis. 
Ek kan net nie ‘cope’ met soveel veranderinge daagliks nie!

Regterbreintjies leer mos uit ervaring.  “My kind, trek aan jou sandale die dorings gaan jou steek op die gras”, en daar hardloop sussie kaalvoet oor die gras – “Eina, eina! Mamma! Kom help my! Daar is dorings in my voete!” “Ek het jou dan gesê!” Sussie trek in vervolg haar skoene aan.  
“Mishka, jy moet versigtig wees in die stalle, ‘n perd kan skop.” 
Die stalle bel my dringend. Mishka is geskop in die stalle. Jaag hospitaal toe, darem nie te veel skade nie. 
Mishka is deesdae baie meer versigtig.
 
“Mamma, kan ek na ‘n partytjie toe gaan?”
“Is daar drank? 
“Nee, Ma.
“Is die ouers daar?”
”Ja Ma.”
“ASSEBLIEF MA! Moet my nie so embarrass nie, moet ASSEBLIEF nie die ouers bel nie, ek sal vir ma ‘n foto stuur!.”
“Kan ek oorslaap Ma?”
“Is daar seuns?”
“Nee, my kind jy kan beslis nie oorslaap as daar seuns is nie.”
‘n Klein oorloggie tussen vertroue en mag en grootword ontstaan tussen die kliniese linkerbrein en die emosionele regterbrein. 
Ons kom ooreen met groot opstand tot half 12 die aand. Ek laai my kind af met ‘n ongerustheid in my hart.
Ek stop ewe gedweë half 12 voor die hek. My kind kom verlig aangestap.
“Mamma, ek moet iets vir jou sê! Toe ek daar aankom het almal drank in die hand. Ek pace myself toe maar met drie biere deur die aand! 
En die gevryery! Die ouers het gaan slaap. 
Mamma, baie baie dankie dat jy my kom haal het!” 
En die regterbrein het natuurlik weer alles uitprobeer!
“Mam, as ek jou weer push om ja te sê, MOET jy nee sê. Ek gaan kwaad word, maar jy MOET nee sê.” 

En die ma glimlag in haar hart.

En so word my emosionele regterbrein kind wat haar in allerhande situasies bevind, oortuig om saam met haar maatjie in te skryf vir Mnr en Mej Ovie, Overkruin se “beauty pageant”.
Onderhoude word een aand gehou vir al die hordes wat ingeskryf het. 
Marike kom die volgende dag houtgerus by die skool aan…
“Baie geluk Marike, jy is in die finaal!”
“Marike, weet jy net twee graad 11’s is gekies?!”
Die hele graad 11 groep ondersteun Marike, Marix se moed sak in haar skoene. Waarin het haar regterbrein haar nou weer in begewe? Sy het dit dan net gedoen omdat haar maatjie wou. Sy is nie lus vir sulke stories nie! Sy kan nie haar graad 11 maats in die steek laat nie, sy besluit maar om deur te druk. Intussen moet al die finaliste nog ‘n spul geld ook insamel. Seker vir hulle foto’s.

“Mamma, ek gaan NIE met hoë hakke op daardie verhoog loop NIE! Daai Willie kan vergeet! Hy is nie eers ‘n onderwyser nie!
Mamma, Willie sê hy raak nie aan my vir grimmering voor ek my wenkbroue gewax het nie!”

Marike gaan pas geborgde rokke. Dit opsigself ‘n uitdaging. Marike is klein, kort en fris. Marike kom die ene glimlaggies uit. 
“Mam, die tannie sê ek kan klokkies om my voete bind, en mooi linte, ek moet net my tone mooi maak. Sy sê ek is haar warrelwind- kind. 
Mamma, ek gaan my hare so krullerig maak, ek wil nie soos ‘n modepoppie lyk nie.” 
En die linkerbrein ma bespreek vroegtydig hare, naels en ‘n wax.

Die tieners oefen hulle kedikkies. “Mamma, hierdie is nie vir my nie. Dit is so plastic. Die meisies is so dun en maer.”

“Ai, mamma, ek moet nog my skoolwerk ook inpas.” Die druk neem toe tussen mej ovie oefen, ekstraklasse en werk inhaal.

Een middag laat bel Marike my,  in ‘n totale toestand. 
Sy kry nie asem nie. 
Wille het ‘n tantrum gegooi. Hy het op haar geskreeu. Hy het gesê as sy nie hoë hakskoene aantrek nie, moet sy onttrek. 
Die regterbreinkind het natuurlik vir hom ‘n toffie gegooi.
Marix vreeslik ontsteld.
Willie wil nog met die ma oor die foon praat, toe staan sy voor hom.
“Wat se belaglikheid is dit die? 
Sy penaliseer haar mos self as sy oor die platform huppel.” 

Willie staan vas, die Ma raak ongeskik, Marike hiperventileer.

Na drama, moet Ma huistoe jaag om haar hoë hakskoene te leen vir Marix. My kind se hoogste skoene in haar kas is haar skoolskoene.
Die volgende middag  hardloop ons die Kolonnade plat in ‘n driekwartuur (al wat ons het na oefening en ekstra klasse en werk) om mooi fyn hoë hak–sandaaltjies te kry vir ‘n nommer 3 vet voetjie.
Nêrens.
Die volgende dag in middagete soek ek verder skoene. Ek sien ‘n skoen, neem dit af, stuur foto vir Marike, en kry die gewone antwoord. “So NIE!!”
Tyd raak min, arme Ouma is ons laaste uitweg. 
Ouma en Marike kry skoene. 
Uiteindelik! Wat ‘n verligting. 
Marike en Mishka loop beurtelings op die ‘high polfies’ die hele aand rond. Ewe ‘grant’.
Marike oefen by die huis haar dansie met die skoene. Val haar amper kepletter.
Ou Willie is darem tevrede.
“Mamma, die skoene val uit.” 
Die ma wat naaldwerk haat, probeer die bandjies korter maak. 
Chaos. 
Skoene word laat die aand na Ouma geneem, Ouma vat skoene om reggemaak te word. “Mamma, die skoene druk my nou vreeslik!” 
“Tough cookies sussie, jy moet maar uithou, ek is wraggies klaar gesukkel met die skoene!”

Hulle laaste oefening is Maandag van 2 tot 9 die aand. Marike moet gaan vir ekstra klas, en naels en tog die wilde wenkbroue.
Ou Willie kry die piep!

Marike bel erg benoud.
“Mamma, Willie sê as ek nie binne 5 minute daar is nie, onttrek hy my!”
“Nou wat de dinges!!
Hy het dan gesê jy moet jou wenkbroue wax!”

Die ma erg vies.

Sulke drama is mos nie nodig nie? Hulle loop mos net op en af op ‘n ‘ramp’? Die ma probeer Willie in die hande kry, hy skree in agtergrond, hy gaan beslis nie nou met my praat nie, ek moet die onderwysers bel.
Die ma baie erg  vies.
‘n Proffessionele, volwasse man tree mos nie op soos ‘n emosionele opstandige tiener nie?! Gelukkig het sy redelik ondervinding met regterbrein emosionele tieners. Met ‘n groot gesukkel kry die ma die onderwyseres in die hande. 
Drama word uitgesorteer. 
Ou Willie het gestrip want seuns het gaan rugby oefen, en meisies was nie daar nie en sy ou show gaan ‘n flop wees!

Marix kom doodmoeg terug in 'n breuk. “Mamma, Willie sê ons moet almal ons hare straight.” 
Tot die linkerbrein ma is moeg vir die ou wat almal in modelrobotjies wil verander. 
Wat van enige kreatiwiteit? Ek en Marike is gedaan gestoei.
Sal maar vanmiddag die hare gaan straight en grimmeer.
“Mamma, Willie sê ek moet half 4 daar wees.” “Jou grimmering is tot kwart voor 4.” “Mamma, ek sien nie weer kans vir ‘n geskreuery nie!”
Die ma bel weer die onderwyser. Dit is reg, Marix kan 4 uur daar wees.

Marike stel haar grimmering self uit na half 6. 
Die konsultant bel my en sê sy gaan nie half 6 maak nie. 
Die ma is OP! 
Waar de duiwel kry ek nou iemand wat haar op sulke kort kennisgewing kan grimmeer?!!
Ek bel oral rond, smeek, uiteindelik kry ek iemand wat haar 6 uur kan help. (7 uur begin Willie se show). 
Marix bel my half 6 ewe vrolik. “Mamma, hulle het my sommer klaar gegrimmeer!” 
Ek is verlig en kwaad gelyk – nou moet ek ALWEER op die nippertjie kanselleer. 
Gaan hierdie nooit ophou nie? Die ma se linkerbrein is voos, opgebrand van al die veranderinge.

En so breek die groot aand toe aan… Uiteindelik.

Willie se ‘show’ is  toe nie ‘n flop nie.
Marix lyk te pragtig, die ma kry sommer ‘n knop in die keel. 


Marix kom stralend en gedaan na die tyd by haar ma en gee vir haar ‘n lekker druk en soen op haar wang. 
Ai, my kind, ons is hier deur. 
Mamma kan nie glò jy het al hierdie druk so goed hanteer nie.

“Mam, dankie vir alles. Ek is lief vir jou”
En die ma se geseizde linkerbrein maak die hart weer sag.