‘n Baba word gebore, die wonder van ‘n perfekte klein mensie word aanskou.
‘n Dun boompie met ‘n buigbare stammetjie word geplant.
Die baba word gevoed, gedoek en gedummy. Die boompie kry water en kunsmis.
Albei groei – stadig maar seker.
Baba kry tande, begin kruip, loop en hardloop.
Boompie kry nuwe takkies en blaartjies. Sy stammetjie word effens dikker.
Peuter spring van die bed af, kap haar kop oop.
Net bloed waar jy kyk.
Hospitaal toe. Steke.
‘n Storm kom op, boompie word gewaai, hy buig en kreun tot op die grond.
Boompie word versterk met ‘n paal. Peuter kry so af en toe ‘n warm boud.
Albei groei – met horte en storte.
Kleuter word 5. Kinders speel “ring-a-ring-a rosie” rondom boompie, hy koes om regop te bly, sy stammetjie nog so dun.
Ons gaan graad 1 toe, ons groei te vinnig.
Boompie wag geduldig op reën en dalk ‘n bietjie kunsmis om te groei.
Boompie groei stadig.
Kind begin eksamen skryf, voëltjies begin in boompie sit. Boompie kreun van gewig. Sy takkies nog te dun. Kind kreun, die huiswerk is sooo baie.
Tiener lê onder die jong boom en droom op na die sterre. ‘n Wêreld vol ideale lê voor.
“I love you” word op boompie uitgekrap.
Boom aanvaar dit gelate. Ons stap immers al ‘n paadjie saam.
Tiener kom by die huis aan, in trane. Hart is gebreek in duisend stukkies. Boom kry ‘n druk en gooi sy effense koelte met liefde.
Tiener word student.
Boom blom die eerste keer. Boom is ‘n godgegewe seëning. Boom bring soveel vreugde. Student jol en kerjakker. Voëls sing en speel in Boom.
Student trou. Sit huis op. Begin ‘n loopbaan.
‘n Houtkapper maak nes in Boom. Boom voel gelukkig. 25 jaar later het iemand ‘n tuiste in hom gevind. Houtkapper kry 'n maatjie.
Die jong vrou word swanger en kry die mooiste baba.
Houtkapper lê eiertjies en kry twee wilde, honger kuikens. Ma- en Pa-houtkapper vlieg en fladder om kleintjies groot te kry.
Boom kyk in liefde neer.
Kleuter speel rustig onder die boom. Boom gooi die sagste koelte.
Hartsgesprekke en omgee-kuiers onder die boom.
Houtkapper lê weer eiers in Boom se hart.
Slang vreet alles op.
Houtkappers stukkend.
Mamma verloor ‘n baba. Harte is rou en stukkend.
Boom bloei.
Boom se stam word dikker, takke sterkter en harder.
Peuters, kleuters en kinders speel en stamp tone onder die boom.
Boom is gelukkig en tevrede. Daar is soveel seëninge in sy 30 jaar.
Boom is 35! Hy voel sterk en gesond. Nog baie groei en skadu vir almal.
Die weer kom op. Vir die soveelste keer. Gaan Boom die keer kan staande bly? Sy wortels anker diep in die grond.
Ma en Pa baklei dag en nag.
Donderweer blits en donder.
Die weerlig slaan boom se sterk tak mors af.
Ma en Pa skei.
Boom is vermink.
Kinders voel wortelloos, stukkend.
Ma, Pa en kinders se harte is vol snye.
Boom bid vir reën en genesing. Stadig begin boom herstel.
Sy letsel na jare wys minder.
Ma, Pa en kinders se litteken-harte word sagter.
Boom kan weer skewe koelte gooi.
Hartsgesprekke en omgee begin weer onder die boom.
Boom is 40! Boom geniet die voëltjies. Houtkappers is aan die werskaf.
Boom gee vrede-koelte. Boom se stam is dik.
Het al baie wind en weer trotseer.
Boom sien kans vir nog baie winters.
Vrou, die boom se blare verstop die geute.
Die voëls mors op my kar.
Ek is moeg om blare op te vee op die plaveisel!
Die boom is dan so pragtig. Veral as hy blom!
Wie tel die blomme op??! My kind is allergies vir bye!
Die petrolsaag raas. Die boom se takke word een vir een afgeruk.
Boom huil.
Net boom se sterk stam bly oor.
40 jaar flits verby.
Groot, breë “I love you” letters word afgepynig.
Boom snik, hy het nog soveel om te bied.
Petrolsaag hou aan gil.
‘n Groot diep hartseer pluk aan Boom se bloeiende hart.
Boom lê stukkend in ‘n paadjie.
Hy word elke dag vertrap op sy stam-stepping stones.
Voëltjies, houtkappers, babas, tieners, almal se wortels is uitgeruk.
Boom is weg.
40 jaar verdwyn in ‘n oogwink.
Waar gaan ek droom?
‘n Kaal oop warm gat bly agter.
Wat maak dit saak?
My geute is skoon..
Geen blare om op te vee...
Ha ha! Die voëls is weg!
My kar moet nog steeds gewas word..
Wat maak dit nou eintlik saak?
Nog 'n boom is gemoor vir my gemak..
My geute is skoon..
Geen blare om op te vee...
Ha ha! Die voëls is weg!
My kar moet nog steeds gewas word..
Wat maak dit nou eintlik saak?
Nog 'n boom is gemoor vir my gemak..