En ek wonder wat dink God?
Die een groep stry of apartheid in die kerk toegelaat moet word terwyl een van my kinders wens dat apartheid deel was van haar lewe. Sy sou ‘n meer regverdige kans gekry het in haar studies, op die sportveld en in skoon badkamers. In dieselfde asem besef sy ook die onregverdigheid daarvan.
Waarom moet sy die gevolge dra?! “Die kinders sal boet vir die sondes van hulle voorvaders!!” preek die dominee.
Die ander kerkgroep wonder hoe higiënies is ‘n groot beker tydens nagmaal. Jy mag nie dans op jou troue nie, sê die dopper dominee en die jolige, vrolike kind se hart kom in opstand. Die een groep klap hande en jubel en juig, terwyl die pastoor in sy blink nuwe motor ry na sy spoghuis in Waterkloof.
Die ander groep veroordeel die engele en ‘saints’ van nog ‘n kerk. Ander gooi jou in die swembad vir díe groot doop, die self-vermoorde mag nie in die kerk begrawe word nie want ons sê God veroordeel selfmoord.
Ons sing in swymels, spreek in tale en sweep mekaar op. Waar is hulle as jy ‘n krisis het?
Die een spul hou kerk op ‘n Saterdag, die ander glo nie in Christus nie. Elkeen veroordeel na die hel as jy nie glo wat ons glo nie.
Wie is jy nou eintlik? Ryk of arm. Maer of vet. Graad of nie. Slim of dom. Moslem, Hindu, Katoliek, Happy Bappy, Christen met ‘n swart pak, Christen met ‘n jean.
Jy is hier vir ‘n rede.
Wat is die kerk se rede?
En ek dink God kyk af en skud sy kop in ongeloof vir hierdie wêreld se sirkus, en sien hoe mensies skarrel vir hulle eie mishopies met sy spesifieke reëls en regulasies.
Waarvoor?
Liefde, omgee of rykdom, jeug, sukses of Mag?
Waar is die liefde, my kinders?
Waarom volg jy nie jou lewensdoel waarvoor Ek jou hier op aarde geplaas het nie?
En die dominee hieronder bulder: “Sonder liefde is ons soos klinkende simbale”.. en ek dink God skud maar net Sy kop in ongeloof...