Elke oggend durf ek my 33km roete op die N1 aan na my werk. Vakansie- en eksamentye neem dit my 25 minute, ander dae tussen 50 tot 90 minute. Dis dan wanneer ek dit maar my dinktyd maak.
Dit help tog nie om te stres nie, as jy in die verkeer sit, sit jy.
Vanoggend dink ek aan tiendes. Daar word altyd tog so klem gelê om jou tiende te gee...
Ek stop by die robot en die 50-jarige witman wat een of ander senuweesiekte het (ek kan sien hoe sukkel hy om te loop, hoe moeiliker dit raak soos die dae verbygaan, veral nou in die winter), verkoop sy vars gebakte R10 fudge. Hy probeer darem iets doen, en ek koop maar vir die soveelste keer die verskriklike soet fudge wat die kinders nie eers wil eet nie.
Nog twee irriteer my met koerante en For Sale pamflette wat voor my oë ingedruk word en voor my neus gewapper word.
By nog ‘n robot staan die ongeskikte ou vrou en bedel vir geld. Hul lyk mos so skuldig, wil mens nie eintlik in die oë kyk nie, maar bewaar jou as jy nie iets gee nie, dan word jy sommer gevloek!
Deur die tolhek – ons in die Noorde borg mos die N1 tot in Botswana, geen alternatiewe roetes vir ons nie. Geen Gautreinbus waar ons bly nie! Taxis ry verniet, ons volg die wet van Transvaal!
Vanmiddag ry ek huis toe.
By Menlyn se robot is die die nuutste, ‘n wit –ge-shoe-shine-de swart seun wat dansies uitvoer om geld te kry. Hy lyk so tog snaaks, die spierwitte arms, bene, tande en gesig met kroesies en lippe – dat ek tog maar weer ietsie gee- hy het darem ‘n glimlag op my gesig gesit!
Verder aan sit ‘n onwettige immigrant met ‘n baba by die robot. Ek word sommer onmiddelik kwaad. Hoe kan jy jou kind langs die straat grootmaak?! Die arme baba toegedraai in die warm son gepêpa op sy ma se rug. Die hele liewe dag!
Seker sopnat van die sweet. Ontwatering gaan deur my gedagtes. Wat maak die ma as sy regtig nie kos het nie? Gebruik sy die baba vir jammerte? Ek draai net daar die ruit af en dreig die vrou met die Polisie.
Die tweestryd om te gee of om nie te gee stry alweer binne my. Ek word sommer weer vies vir die regering dat hulle nie ordentlike grens-beheer toepas nie.
Ons bly in Afrika – geen grense.
En hier is ons twee blindes – iemand is mos deesdae nodig om die blinde met die vreeslike groot donkerbril te lei en te ‘help’ om ‘n blikkie te skud. Ek glimlag maar net, gister was dit dan sy ‘helper’ wat blind was!
Ek stop by Zambesi se robot en wens onmiddelik dat ek swart belt in karate het! Hierdie outjies wat met hulle half vuil waterbotteltjies loop en dan ewe skielik op jou voorruit water spuit jaag my kwik op verby kookpunt – eerder tot byna moord!
Hulle spuit mos net, kyk nie of jou ruit skoon is of nie! Menige fris boer het al uitgeklim en een aan die bors gegryp! My kinders druk al hul ore toe as hulle nader kom, ek skree so dat geen ou dit naby my waag nie! Hul bring regtig die slegste uit in elke mens – wat nog van ‘n donasie gee.
Ander sit weer rustig in die kar, laat hulle spuit en was, en ry dan weg en los ‘n erg kwaai en vloekende ruitwasser gelate agter.
Deesdae druk ek ‘n rubberslang by die venster uit as hulle nader kom (ek kry te skaam as ek so te kere gaan). Ek kry tog so ‘n lekker gevoel van genoegdoening – het julle!
Ag tog, en moenie die ouens vergeet wat donkerbrille verkoop nie. Ek sit met my oogarts-goedgekeurde donkerbril in die kar, maar hy sal jou nog oortuig sy bril het jy nodig! Of wat van ‘n memory stick of ‘n ‘pirate’ kar charger? As jy geswig het oor die goeie prys, kom by die huis en sien hierdie ding werk soos in glad nie, het hy natuurlik môre soos ‘n groot speld verdwyn!
Ek stop by Fruit en Veg om groente te koop. Die karwag groet my oorvriendelik en belowe hy sal my kar mooi oppas. Ek stoot bukkend my swaargelaaide trollie tot by my kar – karwag het soos mis voor die son verdwyn. Nadat ek AL die aartappels, lemoene, appels, waatlemoene en bokse uit die trollie in my kar gelaai het, verskyn hy ewe vriendelik uit die mis met ‘n sigaret in sy hand. Sal ek hom iets gee, sal ek nie? Ek het al vir myself ‘n kriteria opgestel waarvolgens ek vir hulle geld gee. Hoe lank was ek geparkeer, hoeveel motors word by daardie sentrum gesteel, was die motorwag daar toe ek uitgeklim het, help hy my met die trollie, help hy my pakkies inpak, te vriendelik?
By die poskantoor is dit dieselfde storie. Moet jy nou wraggies geld gee vir die motorwag terwyl jy jou pos uithaal en self jou motor kan dophou?!
Neels bel, daar is nie melk en brood by die huis nie. Ek stop by Spar – nog ‘n irriterende motorwag staan soos Superman reg om na my kar te kyk. Ken Superman karate? Ek is al groen belt!!
Uiteindelik by die huis! “Ma.. ons moet môre blikkieskos skooltoe vat, en o ja! Komberse as ons het. Shame Ma, daar is kinders wat nie eers kos in hulle huise het nie”. “Kyk tog maar daar in die kas, ek dink daar is nog ‘n paar ekstra blikkies baked beans en sweet corn.”
Saterdae is die ergste.
Die asblik lê uitgestrooi – nee, nie deur honde nie, maar deur boemelaars wat die cheek het om nie eers die gemors wat hulle uitkrap weet terug in die asblik te gooi nie!
“BeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeSêm. BeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeSêm” begin dit vroeg oggend.
Hoeveel van hierdie grasbesems moet ons nòg koop?!
Ons ‘gereelde’ boemelaar lui die klokkie – hy kom haal sy weeklikse donasie. Die donasie het verminder toe hy eendag poepdronk daar aangekom het en die klokkie aanhoudend gelui het tot iemand uiteindelik vies uitgekom het. Dikvellig, sê ek jou. Dikvellig.
Ek ry gou Pick en Pay toe, langs die pad kry ek hierdie nuwe tendens, staan met plastieksakke langs die pad om jou gemors uit die kar te neem, natuurlik teen ‘n fooitjie. Of hierdie wat nou so op hulle knieë kniel in DIE MIDDEL VAN DIE PAD en met bak handjies iets uit jou probeer smeek. Wat genoeg is, is genoeg!
Die rugbyseuns hou ‘n blikskud vir hul toer – ek raak sommer onmiddelik kwaad. Kan hul ouers nie sien hoeveel bedelaars is daar alreeds langs die pad nie! Jy leer nie jou kind bedel nie, hoekom kan hulle nie karre was vir ‘n fooitjie nie? Vandag se tieners...
Iewers langs ‘n stopstraat is ‘n dronk ou vasgeketting in sy onderbroek. Sy grootmeneer-pêlle staan eenkant langs die pad met ‘n bierblik in die hand en geniet sy petaljie terdeë. Hy trou volgende week, honeymoon is duur..
Terug by die huis. Angeline, ons huiswerker se seun het geld nodig. Sy het niks nie, kan ons vir haar leen. Sy doen tog so baie vir ons, ons gee maar. Freddie die tuinier is nog net ‘n asem. Tussen sy styfgespande dagga oë en dronk asem is dit ‘n wonderwerk as hy die gras gesny het en die blare opgevee het. Sy rug is te seer vir enige swaar werk. Freddie sorg vir sy kinders en hoeveel vroue by die huis. Ons bly maar geduldig met Freddie. Waar sal hy tog nou weer werk kry?
Anton, Neels se hulp op Saterdae se kind is siek. Hospitaal toe, medisyne, klere, geld as die ‘piece jobs’ te min is. Elke Saterdag gaan Anton met ‘n pak kos en lekkernye huistoe. Angeline het haar die reg toege-eien om te besluit wat word nie geëet nie en wat is oud in die huis. Dit word alles vir Anton in die yskas gebêre. Elke Saterdag is dit soos Krismis vir Anton. Ek het al telkemale gewonder wat het van dit geword? Mmmm, seker na Anton toe...
Jou huurder bel – dit gaan nie so goed met sy besigheid nie, kan hy maar so teen die 10’e sy huur betaal?
Jou x bel – hy het nie geld nie, sal nie hierdie maand kan onderhoud betaal nie. Wie moet vir die kinders sorg?
Jou man se x bel – haar ma het kanker – ons maak kos en stuur oor.
Die klokkie lui... “MOENIE ANTWOORD NIE!!!!”
“Gee jou tiende Broeder en Suster, gee jou tiende!!”, bulder die dominee.