Na 5 jaar kan ek darem sê as die kinders van hulle pa af terugkom, is hulle nie meer so ontwrig nie.. gewoonlik..
Na hierdie naweek is dit toe nou nie so nie – of dit nou die feit is dat hulle pa mos nou sy 25 jaar diens Telkom werk gaan bedank het en maar net wéér al die verantwoordelikhede op ander mense afgeskuif het, of dat sy vrou redelik dik is vir hom, of dit die einde van die kwartaal is, maak seker nie saak nie..
Die feit bly staan toe Marix en Mish Sondag-aand by die huis instap, weet ek sommer hier is alweer moeilikheid.
Sug.
Ai tog.
Elke liewe oggend aan ontbyttafel is Marike en Mishka aanmekaar. Of hulle nou net nie lekker opgestaan het nie, of dit is omdat Clarissa nog steeds omtrent niks eet nie, of omdat Neels kerm dat sy meer moet eet of dit is omdat die ma alwéér laat is, en moenie Angeline se eierlê vergeet nie.., gedurig is hulle aanmekaar.
In so ‘n mate, dat ons nou al plekke omgeruil het om tog net die vrede te bewaar, maar helaas, toe nou nie vir te lank nie..
Hulle sit nou oormekaar – nou pla Marike se voete weer vir Mishka elke oggend – die volgende stap is ‘n plank tussen hulle bene! Himmel – hoe hanteer ‘n mens tieners?!! Hulle vee hulle mos af aan jou – en hulle lag vir my as ek met my pienk pantoffel daar aangestorm kom!
So gaan dit nou al vir ‘n rukkie. So teen Dinsdag word daar ewe liefies vir my gebel en gevra of hulle mash-mallow rice crispie koekies kan bak. Nogals hulle altwee saam!
Ek moes toe al snuf in die neus gekry het.. Hulle bak nooit saam nie..
Die aand toe ek die produk aanskou is daar twee halwe bakke – die een blykbaar Marike s’n, die ander Mishka s’n.
Gevaartekens..
Die volgende aand het Mishkla se bak, neute in..
En toe begin die oorlog.
Mishka slaan mos nog steeds galbulte uit vir enige iets wat sy verkeerds eet. Sy mag nie peanuts eet nie en Marike het aspris in haar bak peanuts gegooi – of so sê Marike vir haar. Later het sy gebieg teenoor my, dis net gewone neute..
Ai tog.
Hoekom Marike dit gedoen het, sal ek nou nie weet nie – gee ek hulle te min aandag?, is hulle bekommerd oor hulle pa se dinge?, of is dit maar net ‘sibling rivalry’?
Ek kom by die huis en dinge is redelik warm onder die kraag.. iemand het origanum op Marike se marsmallow-koekies gegooi. Ha ha ha.
Mishka beloof hoog en laag dis nie sy nie, Angeline sê toe sy tjaila was alles nog mooi skoon, Clarissa, Neels weet van niks..
My moeder instink sê toe maar dis Mishka, maar natuurlik kan niks bewys word nie..
Uitbarstings, gevegte, deure wat klap volg..
Ek wil nog ingryp toe sê Neels ek moet maar laat hulle dit self uitwoed.. Ek was maar aan die eenkant dankbaar, so moeg vir baklei.. Hoe de dinges hanteer mens tog tieners?!!
Die volgende oggend by ontbyt, weer dieselfde ou storie.. twee harde-koppies. Niemand wil vir niemand vergewe nie..
Mishka het toe darem aan my erken sy het dit gedoen, maar sy kan nie vir Marike sê nie; Marike wil nie sag word nie, want Mishka wil nie jammer sê nie.. en so gaan ons maar aan..
Ai, waar is die dae van sagte baba mashmallow nekkies om te vry en te cudlle te soen...